Die bestuurder van ‘n voertuig is in die hospitaal oorlede en ‘n passasier beseer nadat hulle gisteroggend Dinsdag 18 April 2023 die slagoffers was van verdagtes wat voertuie op die N1 tussen Warmbad (Bella Bella) en Nylstroom (Modimolle) deur skerp voorwerpe in die pad beskadig, waarna ‘n skietgeveg uitgebreek het.
Heritage Protection Group (HPG) is ongeveer 00:30 na die toneel ontbied.
Die insittendes wat met die voertuig bo-oor die stekels (spikes) gery het, het as gevolg van die skade aan die voertuig langs die pad gaan staan. Verdagtes het glo uit die bosse gekom en die insittendes probeer beroof. ‘n Skietgeveg het ontstaan waartydens beide die insittendes van die voertuig gewond is.
Die verdagtes het te voet die bosse in gevlug.
‘n Hommeltuig van AfriForum is gebruik om die verdagtes te probeer opspoor, maar was nie suksesvol nie.
Volgens HPG kon daar vasgestel word dat ses verdagtes betrokke was en hul spore kon langs die snelweg gevolg word tot op ‘n punt waar dit op die teer verdwyn. Dit het die vermoede laat onstaan dat hulle opgelaai kon wees.
SAPD van Warmbad en Nylstroom was op die toneel.
Die ondersoek duur voort.
Volgens HPG se inligting is die bestuurder van die voertuig gister in die oggend-ure in die hospitaal oorlede.
FiND iT het vir polisie kommentaar gevra.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



