Die N1 rigting suid naby die Kings Highway in Pretoria was in die vroeë oggendure vir verkeer gesluit.
Thabo Charles Mabaso, woordvoerder, sê Tshwane-nooddienste het ongeveer 00:58 ‘n oproep oor twee vragmotors wat in ‘n ongeluk betrokke was, ontvang. Geen tenkwa was betrokke nie.
Met aankoms op die toneel is gevind dat een vragmotor in die agterkant van ‘n ander vragmotor vasgery het. Die vragmotor wat in die ander een vasgery het, was in vlamme gehul, asook die sleepwa van die voorste trok.
Vier bane van die hoofweg was gesluit terwyl die brand bestry en geblus is. Meer bane is intussen, soos wat opruimingswerk vorder, geopen.
Die bestuurder van die voorste vragmotor is met geringe beserings na Steve Biko-hospitaal vervoer. Die agterste vragmotor se bestuurder kon nie op die toneel gevind word nie.
Mabaso sê olie sowel as ongeïdentifiseerde gevaarlike materiaal was op die hoofweg gemors, waarna SANRAL ‘n gespesialiseerde skoonmaakmaatskappy vir die skoonmaakproses verkry het. Omdat dit vroegoggend was, was daar nie juis ‘n verkeersopeenhoping nie.
Tshwane-nooddienste het die toneel aan SANRAL en wetstoepassingsagentskappe oorhandig.
Soos wat die dag gevorder het, is verkeersopeenhoping gerapporteer.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



