Man probeer glo medikasie oor grens smokkel – vasgetrek

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Man (31) het Vrydag 14 April 2023 ongeveer 16:05 probeer om glo ‘n besending van ongeveer R800 000 se medikasie oor die Oshoek-grens te smokkel.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê lede van die grenspolisie op Oshoek het die man in hegtenis geneem.

Lede was besig met roetinepligte en het ‘n vragmotor wat twee sleepwaens gesleep het, deursoek. ‘n Groot besending medikasie is ontdek.

Die vragmotor, wat die eiendom is van die koninkryk van Eswatini, was op pad na Suid-Afrika. Die bestuurder van die vragmotor kon glo nie magtiging vir die vervoer van die vrag oor die grens voorsien nie. Hy is in hegtenis geneem vir oortreding van die Mediese Wet.

Daar word verwag dat hy vandag in die Chief Albert Luthuli-landdroshof sal verskyn.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela het die lede van die grenspolisie geprys vir hul diens om misdaad by grensposte te beveg.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.