‘n Tienerseun en leerling by Helpmekaar Kollege het Dinsdag tydens ‘n gesinsvakansie verdrink.
Die 16-jarige Christopher Barnard, ‘n graad 10-leerling aan die Helpmekaar Kollege in Johannesburg, het verdrink toe hy Dinsdag saam met sy pa op die rotse in Vleesbaai visgevang het.
Andre Fraser, diensbestuurder van die Nasionale Seereddingsinstituut op Mosselbaai, sê lede het om 10:08 Dinsdagoggend ‘n oproep gekry oor die verdrinking.
Swemmers is dadelik na die toneel ontbied waar ‘n pa (47) en sy 16-jarige seun van die rotse afgeslaan en in die see meegesleur is.
Die polisie is ook na die toneel ontbied.
Nooddienswerkers het na die pa en seun gesoek en kon die pa red. Die seun is later in die water gevind, maar hy was reeds oorlede.
Dis later verneem dat die seun Barnard is.
Die gesin sou Woensdag ná die vakansie terugkeer huis toe.
Barnard se pa, ma en twee broers ontvang berading.
Die skool het ook Dinsdag op sosiale media Barnard se dood bevestig.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



