Pitbull-petisie – die geveg duur voort

Deel hierdie storie / Share this story

Die Sizwe Kupelo Foundation het op 5 April 2023 ‘n plasing met ‘n foto op sosiale media gedeel waar 139 000 petisie-handtekeninge ter ondersteuning om pitbull terriërs as huistroeteldiere te verban aan me. Thoko Didiza, die minister van die departement van landbou en grondhervorming, oorhandig is.

Die petisie moes 50 000 stemme kry alvorens dit oorhandig kon word.

Wêreldwyd, in sekere lande, is besluite oor die aanhou van die honderas reeds in werking gestel.

Wanneer die onderwerp aangeraak word, word mense onmiddellik in twee kampe verdeel – diegene wat ten gunste van die petisie is en dan die eienaars van pitbull terriërs wat glo dit is nie die hond se skuld dat kinders en mense aangeval word nie, maar die manier hoe die hond geleer is.

Gwen Vokes, wat erge trauma beleef het toe sy haar regterarm weens ‘n pitbull-aanval verloor het en daardeur ook haar werk, het voorheen met FiND iT gesels oor die herrie oor pitbulls wat tans aan die gang is. Vokes was deel van die oorhandiging aan die minister.

Sy was die betrokke oggend in die huis toe sy gehoor het iets gaan in haar erf aan. ‘n Buurman se pitbull het die erf binnegegaan en haar huiswerker aangeval.

“Ek het eers probeer om hom met water en die tuinslang van haar weg te kry, maar dit het nie gewerk nie. In my poging om haar te red, het die dier na my gedraai en my begin verskeur.”

Vokes sê dit waardeur sy is, kan sy aan absoluut niemand beskryf nie. Sy as volwassene wat lewensvaardighede het om deur gevoelens te werk en dit te verwoord, dink aan klein kinders wat slagoffers is en nog glad nie oor sulke tipe vaardighede beskik nie.

Die hond het voorheen haar seun gebyt, maar omdat dit nie ernstig was nie, en sy met die ouma van die hond se eienaar gepraat het, het sy nie gedink so ‘n voorval sal homself herhaal nie.

“Omdat die man wie se dier dit was by sy ouma gebly het, was ‘n saak teen die ouma as eienaar van die huis gemaak. Die eienaar het weggekom met ‘n boete van R8 000 of een jaar tronkstraf en ‘n opgeskorte vonnis.”

“Verbeel jou al die kostes wat ek met medies en berading moes aangaan vir myself omdat my familie hoogs getraumatiseer was, om van die koste van die prostese nie eers te praat nie. En dan is daar die verlies van my inkomste.”

FiND iT het oor maande berig oor weerlose babas, volwassenes en bejaardes wat deur pitbull-aanvalle beseer of dood is.

Ook is berig van lewens wat deur die honderas uit brande en uit die kloue van misdadigers gered is.

Wat op die uiteinde die besluit oor die honde gaan wees, sal tyd leer.

Hierdie onderwerp laat die gemoedere opvlam. Wat is jou mening oor hoe die situasie hanteer moet word?

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel