Op Goeie Vrydag in die Filippyne, is sommige Katolieke toegewydes betrokke by uiterste rituele van versoening en op soek goddelike ingryping, ten spyte van afkeuring van die Kerk.
In die dorpie San Juan, noord van Manila, het honderde inwoners en toeriste ‘n heruitvoering van Jesus Christus se kruisiging aanskou, met sommige mans wat hulself met bamboes-swepe geslaan het totdat hul rug gebloei het.
Ander het hul vel met skeermeslemmetjies of houthamers wat met glasskerwe oortrek was, deurboor. In die laaste stadium van die opvoering is drie mans aan houtkruise vasgebind, insluitend ‘n voormalige visserman wat die rol van Jesus Christus vertolk het. Die kruisigings is vir die afgelope drie jaar gekanselleer weens COVID-19 en deelnemers is gewaarsku teen die risiko van infeksies. Die Katolieke Biskoppe-konferensie van die Filippyne se komitee vir openbare aangeleenthede het verklaar dat die kruisiging van Christus genoeg is om die mensdom van sonde te red en het diegene wat vergifnis soek, aangemoedig om na belydenis te gaan.



