Victor Wilkens (39) en Chole Jonker (40) is Donderdag 9 Maart 2023 in twee verskillende Kaapstadse hotelle in hegtenis geneem nadat polisie ‘n beweerde gyselaarsituasie ondersoek het.
Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, sê Kaapstad Sentraal-polisie het die inligting opgevolg van ‘n 28-jarige vrou wat teen haar wil by ‘n hotel aangehou is en daarin kon slaag om te ontsnap.
Polisielede het haar identiteit bekom en na haar gesoek totdat sy in ‘n straat naby die hotel opgespoor is. Sy het die lede van inligting voorsien en hulle is terug na die hotel.
‘n Onbekende vrou het die kamerdeur waar die vrou glo teen haar wil aangehou was, oopgemaak. Die vrou is ondervra, waarna sy vrywillig twee pakkies wat tik bevat aan die polisielede oorhandig het.
Die kamer is met toestemming deursoek. Lede het 1 011 tablette wat geglo word Mandrax is en ‘n dwelmmiddel met die naam G-liquid wat na bewering tydens date rapes gebruik word, gevind en daarop beslag gelê.
Dit sal vir toetsing na die polisie se forsensiese wetenskaplaboratorium gestuur word.
Die vrou is in hegtenis geneem.
Verdere inligting van ‘n manlike medepligtige is bekom. Lede het hom by ‘n ander Kaapstadse hotel gevind en in hegtenis geneem.
Verdere inligting het aan die lig gebring dat die man met verskeie kontakmisdade wat in Gauteng gepleeg en aangemeld, verbind is.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê die verdagtes het op 13 Maart in die Kaapstad-landdroshof verskyn waar beide op borgtog van R8 000 elk vrygelaat is. Hulle is gewaarsku om weer op 19 Mei in die hof te verskyn.
Wilkens is volgens die Lowvelder oorspronklik van die Laeveld en familie van oud-rofstoeier Jan Wilkens. Hy het glo ‘n misdaadrekord wat tot in die buiteland strek.
Google jy Wilkens, is daar vele misdaadstories om te lees.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



