Die spesialisondersoekeendheid van Suid-Afrika (SIU) verwelkom die inhegtenisneming van ‘n prokureur op aanklagte van bedrog oor sake wat verband hou met die kantoor van die staatsprokureur.
Kaizer Kganyago, woordvoerder, sê advokaat Hassan Ebrahim Kajee, die prokureur vir die kantoor van die staatsprokureur, is op 1 April op talle aanklagte van bedrog in hegtenis geneem.
Hy is gister op borg van R20 000 vrygelaat nadat hy in die Johannesburgse streekshof verskyn het. Hy sal weer op 25 Mei vanjaar verskyn.
Kganyago sê die kantoor van die staatsprokureur stel dikwels advokate aan om sake namens verskeie staatsinstellings te verteenwoordig. Kajee is oor verskeie sake aangestel om die staat te verteenwoordig.
Die arrestasie van Kajee volg na ’n ondersoek deur die SIU wat aan die lig gebring het dat Kajee fakture opgeblaas het, fakture uitgemaak het vir dienste wat nie werklik gelewer is nie en oorbetaal vir beweerde dienste gelewer. Verder het Kajee glo voorgegee dat hy meer ure daagliks gewerk het as werklike ure in die dag en fakture uitgemaak het vir werk aan verskillende sake gelyktydig.
In ooreenstemming met die Wet op Spesiale Ondersoekeenhede en Spesiale Tribunale 74 van 1996 het die SIU bewyse wat op kriminele optrede dui na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) verwys vir verdere optrede.
Intussen voer die SIU ‘n siviele saak in die Spesiale Tribunaal teen Kajee om sowat R27 miljoen te verhaal vir skade wat die staat gely het weens die beweerde korrupte en samespanningsverhouding tussen die voormalige hoof van die kantoor van die staatsprokureur, Johannesburg, Gustav Lekabe en Kajee.
Lekabe het na bewering Kajee as advokaat vir die Staat van sake gebruik waar Kajee ook fakture voor uitgemaak het wat nie strook met werk gedoen nie.
Bedrog- en korrupsiebewerings kan via die volgende platforms aangemeld word: [email protected] of die blitslyn: 0800 037 774.



