Opvolg: Ma doodgeskiet, seun beseer tydens aanval op kleinhoewe

Deel hierdie storie / Share this story

Martha Baloyi (63) is dood en haar seun Junior (43) beseer nadat hulle op 20 Maart 2023 in hul huis op ‘n kleinhoewe in Swaeltjiestraat 238, Haakdoornboom, noord van Pretoria aangeval is.

AO Johan van Dyk sê ‘n klagte van huisroof is deur die polisie ontvang.

FiND iT het vroeër berig dat Junior om 01:35 ‘n stemnota vir hulp uitgestuur het, waarin daar ‘n duidelike skoot wat afgevuur word, gehoor kon word.

Met die polisie se aankoms op die toneel is Junior, wat in sy been geskiet is, reeds per ambulans na Dr. George Mkhari-hospitaal vervoer.

Daar was bloedvlekke buite die huis en ook binne-in die huis opgemerk en ‘n gebreekte kombuisvenster wat buite gelê het, asook ‘n gebreekte houtdeur. Oral in die huis was bloed.

Die vrou is gevind waar sy in die gang lê. Sy het twee sigbare skietwonde gehad en is op die toneel dood verklaar.

Volgens Junior wat na die hospitaal geneem is, het hulle geslaap toe hulle geluide buite gehoor het. Hy het na die kombuis gegaan en die lig aangeskakel, waarna daar van buite die kombuisvenster op hom geskiet is.

Hierna is die deur van buite gebreek en twee verdagtes het die huis binnegegaan, waarna die oorledene en die slagoffer geskiet is.

Die beseerde slagoffer het daarin geslaag om homself in die slaapkamer toe te sluit en gemeenskapslede vir hulp te kontak.

Verskeie patroondoppies is op die toneel gevind. Niks is voorlopig uit die huis vermis nie. Pretoria-Noord-polisiestasie ondersoek klagtes van huisroof, moord en poging tot moord.

Junior het aan FiND iT gesê dat dit baie moeilik vir hom en sy suster is, maar dat hy beter raak. Hulle is tans in die huis waar die voorval plaasgevind het.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel