‘n Ouer wat met FiND iT gepraat het, is bekommerd oor die gewig van skooltasse in die algemeen.
Die betrokke ouer sit met ‘n probleem dat haar skooldogter se tas baie swaar is. Sy is radeloos en het selfs ‘n vergadering by die skool gehad, maar daar is steeds geen oplossing nie.
Haar dogter (9) is in graad vier.
“Sy het altesaam 23 handboeke en skryfboeke wat elke dag in haar tas moet wees.”
Die mamma het die boeke geweeg en op 6 kg uitgekom. Saam met die tas was dit tussen 10 tot 12 kg. Dan moet ‘n kosblik en waterbottel nog bykom.
“My meisiekind weeg ongeveer 30 kg.”
Die ma het voorgestel dat sluitkaste vir die skool aangekoop word, maar die skool het gesê daar is nie belangstelling vir dit nie. Sy onthou egter nie dat haar kinders in drie jaar al ooit ‘n dokument waarin die ouers se mening hieroor getoets is, huis toe gebring het nie. Die gevoel is dat kinders maar aan die gewig gewoond moet raak.
Die ander voorstel was dat rakke in die klaskamers aangebring word waarin boeke wat nie huiswerk behels nie, gelaat word. Die antwoord was dat die klaskamers te klein is om dit te doen.
Die skool het egter ‘n “wielietjietas” voorgestel.
“Omdat dit onbekostigbaar is, het hulle vir my ‘n tweedehandse een voorsien.”
Die ouer sê sy kry ouer kinders jammer omdat dit soveel meer weeg. Daar is tans buiten die Cadii-wielietjietas wat gewild is in die laerskole ook verskeie tasse soos Totem, Boomerang en Savvy wat ortopedies ontwerp is om te help, op die mark.
Hoe voel jy oor die situasie van kinders wat swaar skooltasse moet dra?
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



