Rupert Alberts (45) het ‘n vonnis van 18 maande tronkstraf, opgeskort vir vyf jaar, gekry nadat hy Maandag 6 Maart 2023 skuldig gepleit het op klagtes van dieregevegte in terme van die Dierebeskermingswet 71 van 1962. Hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n dier te besit of te hanteer.
Cape of Good Hope-DBV sê hierdie vonnis is ‘n oorwinning vir diere.
Dit volg nadat optrede deur die DBV en Stad Kaapstad op 9 Oktober 2021 gelei het tot die inghegtenisneming van drie verdagtes in verband met ‘n hondegeveg op ‘n perseel in Saxonsea in Atlantis, Wes-Kaap.
Met aankoms op die toneel is twee honde gevind wat aktief aan die baklei was. Die verdagtes het gevlug, waarna hulle opgespoor en in hegtenis geneem is. Die eienaar van die perseel en nog ‘n persoon wat die optrede deur die beamptes probeer verhinder het, is ook in hegtenis geneem. Na inhegtenisneming is die verdagtes aan die Atlantis-polisie oorhandig.
Die beseerde honde, met sny- en bytwonde, is vir mediese hulp na ‘n veearts geneem. Vier honde is verwyder en in veiligheid geplaas.
Verskeie bewysstukke wat op hondegevegte dui, is op die perseel gevind. ‘n Voertuig wat gebruik was om die honde wat veg te vervoer, is ook geskut.
Na die suksesvolle operasie het Moyo Ndukwana, hoof- uitvoerende beampte, hoofinspekteur Jaco Pieterse en inspekteur Mark Syce wat betrokke was, asook die Stad Kaapstad bedank.
“We will fight until the very end for justice to be served for the animals we serve and protect. Dogfighting is cruel and barbaric and has no place in our modern society” said SPCA Chief Inspector Jaco Pieterse.
Diegene wat namens diere praat, word bedank vir hul dapperheid. Klem word daarop gelê dat hondegevegte gestop moet word. Dit word as ‘n onmenslike ondergrondse bloed-“sport” beskryf wat vir “vermaak” en finansiële gewin plaasvind.
Hondegevegte is onwettig in Suid-Afrika en indien ‘n persoon skuldig bevind word aan enige betrokkenheid, kan ‘n boete van R80 000 of tronkstraf tot en met 24 maande opgelê word. So ‘n persoon het dan ook ‘n kriminele rekord. Om op enige manier betrokke te wees by dieregevegte, hetsy deur eienaarskap, opleiding of teling vir hierdie doeleindes, is ‘n misdaad.
Dit is verder onwettig om hierdie honde te koop, te verkoop of in te voer, selfs om hulle aan te hits vir geldelike gewin of vermaak. Dit word ook as ‘n oortreding geag om toe te laat dat enige van hierdie aktiwiteite op ‘n perseel waarvan jy die eienaar is of waarop jy bly of beheer oor het, te laat plaasvind. Die bywoon van hondegevegte of om op die perseel te wees waar dit plaasvind, is ook ‘n misdaad.
Die gemeenskap word versoek om na vore te kom indien hulle inligting oor hondegevegte het. Anonieme wenke kan per e-pos aan [email protected] gestuur word of oproepe kan na 0217004158/9 gedurende kantoor-ure gemaak word. Alternatiewelik kan dit deur die webtuiste https://capespca.co.za/report-cruelty/ of na-uurse nommer 083 326 1604 gerapporteer word.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



