‘n Bejaarde boervrou (74) is die naweek gruwelik op haar plaas op Calvinia vermoor.
Volgens berigte is Christine Walters Vrydagaand naby haar plaashuis met ‘n koeëlwond aan haar kop gevind. Haar hande was glo met dik draad agter haar rug vasgebind en daar was ’n gordel om haar nek.
“Die brutaliteit van hierdie voorval is skokkend. Ons dra ons simpatie aan haar familie oor,” sê Reinette Liebenberg, die DA Noord-Kaap se provinsiale woordvoerder van landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming.
Die nuutste misdaadstatistieke het ook ‘n besliste toename in geweldsmisdaad in die provinsie aangedui.
“Die moord op Walters is nie toevallig nie, maar eerder nóg bewyse van die toenemende wetteloosheid en onveilige samelewing waarin ons leef,” sê Liebenberg.
Drie verdagtes is kort na die moord op Calvinia in hegtenis geneem, maar die gesteelde wapens is nog nie gevind nie.
Die DA doen ‘n beroep op die polisie om alles in hul mag te doen om die vuurwapens op te spoor en voldoende bewyse in te samel om ‘n skuldigbevinding te verseker.
“Die DA sal die verwikkelinge in die saak dophou deur ons provinsiale hofmoniteringseenheid om sodoende die familie te ondersteun, die polisie aanspreeklik te kan hou en om die hofverrigtinge te monitor totdat geregtigheid geskied het,” sluit Liebenberg af.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



