Konstabel glo geskors oor GBV, probeer vrou en kind aan die brand steek

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Polisiekonstabel (35), gestasioneer te Thohoyandou-polisiestasie, in Limpopo, wat op borg uit is, is Sondagoggend vroeg vir poging tot moord in hegtenis geneem nadat hy glo sy vrou (30) en dogter met petrol deurdrenk en probeer verbrand het.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder, sê die konstabel het na bewering na die huis van sy vrou, van wie hy vervreem is, gegaan. Hy het glo aan die kamervenster geklop en gesê hy het vir die kind magou gebring. Sy het die venster oopgemaak en dit by hom gevat.

Minute later het hy glo teruggekeer en toegang tot die kamer verkry en petrol oor hulle uitgegooi, Voor hy hulle aan die brand kon steek, het die vrou daarin geslaag om die aansteker te gryp en hom rustig te maak. Sy het polisiestasie toe gehardloop en met die polisie teruggekeer, wat hom onmiddellik in vir poging tot moord in hegtenis geneem het.

Volgens die verklaring was hy op borg en boonopuit die polisie geskors nadat hy na bewering verlede maand sy vrou aangerand het in ‘n geval van geslagsgebaseerde geweld (GBV).

Hy sal vandag in die Thohoyandou-landdoshof verskyn op klagtes van huisbraak en poging tot moord.

Lt.genl. Thembi Hadebe, die provinsiale kommissaris van Limpopo, sê borggeld wat met die vorige saak betaal is, sal vervolgens verbeurd verklaar word. Sy het gesê dat die SAPD nie lede sal duld wat die lewens van vroue en kinders in gevaar stel nie.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel