Man onder berg vullis uit gered, ander steeds soek

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Vullisverwyderaar is Donderdagmiddag ongeveer om 15:52 onder tonne vullis by die Ennerdale-stortingsterrein, in Lawley, suid van Johannesburg, gered nadat ‘n berggrootte vullishoop op vermoedelik vyf persone ineengestort het.

Shawn Herbst, woordvoerder vir Netcare 911, sê hulle het hulle na die toneel gehaas. ‘n Grondstorting het plaasgevind en die vullishoop het op afvalverwyderaars, wat herwinbare materiaal versamel, ineengestort.

Nooddienswerkers, bestaande uit EMS, die polisie en verskeie spanne van Stad Johannesburg was teenwoordig vir ‘n gekombineerde soektog.

‘n Ooggetuie het ‘n area uitgewys waar een van die afvalverwyderaars begrawe kon wees. ‘n Ander afvalverwyderaar het aan die noodienswerkers gesê daar is vermoedelik nog vier mense onder die tonne afval begrawe.

Een van die honde het die man se reuk opgetel en ‘n plek uitgewys waar daar begin soek is. ‘n Volwasse man in ‘n ernstige toestand is na ‘n ruk gevind.

Die man is deur gevorderde lewensondersteunende paramedici op die toneel behandel en gestablisiesser voordat hy na ‘n hospitaal vervoer is vir verdere mediese hulp.

Die soektog na die vier ander persone wat volgens die ooggetuie onder die vullis kon wees, moes weens slegte weer afgelas word.

Die soektog duur vandag voort.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel