Polisie waarsku oor boodskappe op sosiale media wat geweld aanhits na voorval met 11-jarige

Deel hierdie storie / Share this story

Die polisie in Noordwes het ‘n waarskuwing uitgereik teen die aanhitsing van geweld op sosialemediaplatforms. Dit volg nadat ‘n 11-jarige meisie van die Maboloka-woonbuurt naby Letlhabile buite Brits, na bewering Saterdagaand 18 Februarie 2023 deur ‘n verdagte met die naam Kagiso ontvoer en verkrag is.

Brig. Sabata Mokwabone sê in ‘n verklaring sosialemediaboodskappe is sedertdien daaroor rondgestuur.

‘n Soektog na die meisie en die verdagte is deur die polisie se lugvleuel en berede eenheid, sowel as sekuriteitsmaatskappye en siviele organisasies, geloods.

Die meisie is Sondagoggend 19 Februarie gevind. Toe die verdagte besef dat die polisie kort op sy hakke is, het hy die bosse in gevlug.

Brig. Mokwabone sê voorts dat die polisie tydens die soektog in noue kontak met die familie was en hulle deurentyd ingelig gehou het.

Nadat daar gevind is dat ‘n foto en ‘n naam van ‘n beweerde verdagte op sosiale media rondgestuur is, is die publiek gewaarsku teen die verspreiding van vals inligting en die aanhitsing van geweld. Hierdie tipe gedrag is onaanvaarbaar en word nie aangemoedig nie, omdat dit gepeupelgeregtigheid kan aanhits.

Daar word ook gewaarsku dat geen indimidasie, wetteloosheid en brutale disrespek vir die wet, die polisie sal verhoed om die wet toe te pas nie.

Enigiemand wat met hierdie ondersoek kan help, kan die ondersoekbeampte, sers. Boitumelo Rakabe van Brits-GKS kontak by 079 881 9940.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel