Altesaam 70 wilde diere, o.a. luiperd, van roofdierteelplaas gered

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Span toegewyde offisiere van Bloemfontein- en Virginia-DBV saam met Destea het vanaf 31 Januarie 2023 ‘n totaal van 70 wilde diere op ‘n roofdierteelplaas op Verkeerdevlei, Bloemfontein-distrik, gered. ‘n Man (55) is in hegtenis geneem vir verskeie oortredings van die dierebeskermingswet en natuurbewaringsordonnansie.

Die span het op 31 Januarie by die plaas aangekom vir ‘n ondersoek.

Reinet Meyer, Hoofinspekteur van Bloemfontein-DBV sê aan FiND iT dat niks hulle kon voorberei op wat hulle sou sien nie.

‘n Wildsleepwa van 2 m x 1.5 m was op die perseel geparkeer. Tydens inspeksie is ‘n luiperdwyfie in haglike omstandighede binne-in gevind. ‘n Werker het bevestig dat die dier reeds vir vyf maande binne-in die sleepwa lewe. Sy is hoenders deur die oop spasies aan die kante van die sleepwa gevoer.

“Die stank van urine, ontlasting en ontbinde karkasse wat van die sleepwa gekom het, was oorweldigend.”

“Hierdie was die afgryslikste ontdekkings van een van ons Groot 5-diere.”

Die luiperdwyfie is die dag saam met twee vlermuisoorjakkalse en sewe dassies gered. Die luiperdwyfie is vir behandeling deur dr. Peter Caldwill na die Old Chapel-veeartskliniek geneem. Wanneer sy beter gesondheid geniet, sal sy na ‘n goedgekeurde skuiling geneem word.

Op 22 Februarie het die span weer na die wildsplaas teruggekeer. Verskeie inheemse wildekatte en vlermuisoorjakkalse is in bedenklike omstandighede in hokke gevind.

“Hierdie diere het ‘n menigte gesondheids- en welsynsprobleme.”

Meyer het dit as ‘n dag vol emosies beskryf: ” Die toestande waarin hierdie diere geforseer was om te leef, het ons harte gebreek. Maar om hulle toekoms te kon verander, het die verskil gemaak.”

Die toegewyde spanne het van vroeg tot laataand gewerk om elke dier veilig te vang, te sedeer en ondersoek voordat hulle in kratte geplaas is in hul tog na vryheid.

Thea Smit, DBV-voorsitter van Virginia en Bloemfontein, het die span geprys wat hierdie groot reddingspoging met goed gekoördineerde samewerking laat plaasvind het.

Bloemfontein-DBV het die DBV van Virginia en dr. Lourens en haar span van die Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital en S&S Cartage bedank vir hul bydrae om hierdie suksesvolle reddingsoperasie te kon afhandel.

Meyer sê reddingsoperasies van hierdie grootte kos baie geld en het gevra dat gemeenskappe hulle harte moet oopmaak om hulle te ondersteun om hul werk voort te sit.

“Besoek Bloemfontein-DBV, Virginia-DBV, en Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital, en ondersteun ons op enige manier wat jy kan.”

Besoek gerus www.bloemfonteinspca.co.za en klik op die skakel om ‘n donasie te maak. Alternatiewelik kan jy Bloemspca na 42646 SMS (‘n SMS kos R30).

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel