Mensehandel in Mpumalanga het ʼn onaanvaarbare punt bereik en daar moet teen hierdie nuwe euwel opgetree word.
Werner Weber, VF Plus-LPW en provinsiale leier vir Mpumalanga, sê die tyd het aangebreek dat die regering bewusmaking bring van hierdie soort misdaad, die vele fasette waarin dit hom voordoen en hoe die burgerlike samelewing sy rol daarin kan speel, aanspreek.
‘n Polisie-taakspan het gister 19 Bangladesj-slagoffers uit ‘n huis in Kamagugu in die Ehlanzeni-distriksmunisipaliteit gered. Een man is in hegtenis geneem.
Die slagoffers se selfone is in ‘n plastieksak geplaas, wat daarop dui dat hulle met niemand kon kommunikeer nie.
Verlede jaar in Junie het die polisie 39 mensehandelslagoffers van ‘n plaas in Belfast, Emakhazeni, gered. Hierdie groep het nege kinders onder die ouderdom van vyf jaar ingesluit.
Skaars ‘n maand later is ses ontvoerde Mosambiekse kinders op ‘n plaas naby Bethal gered.
Mensehandel in Mpumalanga gaan egter dikwels ongemerk verby. Selfs die menseregtekommissie (MRK) sê wanneer dit aangemeld word, word min gedoen om dit op te volg.
Die provinsie is glo ‘n brandpunt vanweë sy nabyheid aan die land se bure.
Sowat 64% van alle slagoffers van mensehandel in die provinsie is kinders. Hulle word slagoffers van dwangarbeid, sekshandel of uitgebuit as huishoudelike werkers.
Die VF Plus het vandag ‘n mosie by die provinsiale wetgewer ingedien wat die regering versoek om strategiese netwerke, samewerking en vennootskappe om mensehandel doeltreffend te bekamp, dringend in plek te stel.
Inwoners het bewustheid nodig en meer gesprekke moet op openbare platforms plaasvind.



