KYK: Pa en ma skuldig aan growwe nalatigheid nadat Kaylea Titford (16) dood is aan vetsug

Deel hierdie storie / Share this story

Kaylea Titford van Wallis het 140 kg geweeg toe sy dood is. Ondersoekers beskryf sy is in “vernederende” en “onmenslike” toestande dood terwyl sy aan haar bed vasgekluister was. Paramedici het haar liggaam tussen maaiers en vlieë gevind, met melkbottels vol urine om haar bed. 

Haar pa, Alun Titford (45), is van growwe nalatigheid tot haar afsterwe gelei het, skuldig bevind. Haar ma, Sarah Lloyd-Jones (39), het skuld aan manslag deur growwe nalatigheid, erken. Kaylea se pa het aan die hof gesê hy “was nie ’n baie goeie pa nie” en het niks met haar sorg te doen gehad nie.

Ondersoekers het bevind sy is op 10 Oktober 2020 in vuil toestande dood, wat “ongeskik is vir enige dier”.

KYK DIE VIDEO HIER.

Onderwysers aan die Hoërskool Newtown, waar Kaylea ‘n leerling was, het die 16-jarige as “lewendig” en “heel onafhanklik” beskryf. Sy is in ’n stadium selfs vir ’n Paralimpiese basketbalspan oorweeg, het die hof gehoor.

Kaylea het na die Covid-inperkings nie teruggekeer skool toe nie. Haar ma het glo “veelvuldige verskonings” gegee oor hoekom sy nie skoolgaan nie. Kaylea het ook spina bifida gehad en ’n opbou van vloeistof op haar brein. Sy het dus van ’n jong ouderdom af ’n rolstoel gebruik. 

Haar pa, wat nog vyf kinders het, het aan die hof gesê hy was “lui” en het nie “moeite gedoen nie”. Hy het aan die hof gesê sy was deur haar ma opgepas en hy het “aangeneem alles word gedoen.” Hy het ook gesê haar gewig het al hoe moeiliker geraak om te bestuur, maar dat die gesin vier tot vyf keer ’n week wegneemetes geëet het. 

Albei ouers se vonnis sal op 1 Maart 2023 opgelê word. 

Bron: SkyNews, BBC, The Guardian