Landbou-unie beplan bewusmakingsveldtog oor beurtkrag

Deel hierdie storie / Share this story

Hoewel beurtkrag almal in hierdie land raak, het dit ‘n geweldige en rampspoedige uitwerking op
die landbousektor. Vir besproeiingsboere veral, is dit onmoontlik om gewasse te produseer
wanneer daar konstante en langdurige beurtkrag is. Die uiterse hoë temperature wat ook die
afgelope seisoen ervaar word, dra by tot hierdie ernstige probleem. As landbou-unie en deur ons
affiliasies, Agri Noord-Kaap en Agri SA, doen ons alles in ons vermoë om ‘n oplossing vir die
nasionale elektrisiteitskrisis te probeer vind.

Maar dis NOU die tyd dat Eskom en die regering landbouers se situasie en bekommernisse ernstig opneem en NOU daadwerklike stappe aankondig om hierdie krisis te beredder. Te lank word daar net gepraat, dis NOU die tyd vir aksie neem!
Klein plattelandse dorpe is afhanklik van die landbousektor. Indien landbouers groot skade ly, lei dit
ook tot werksverliese. Landboukoöperasies trek swaarder en besighede sukkel reeds om ‘n bestaan
te maak omdat daar minder koopkrag is. Om nie eens te praat van misdaad wat onaanvaarbare
vlakke bereik het.

As produseerder van verskeie gewasse, word Vaalharts as een van die “kosmandjies” van die Noord-
Kaap beskou. Die besproeiingsboere kan egter nie deur hul watertoedieningskedules kom nie en oeste

ly daaronder. Boonop gaan noodsaaklike besproeiingswater verlore, aangesien dit nie gepomp kan
word nie. Landbouers word ook genoodsaak om in duurder tye hul besproeiingstelsels te laat loop. Dit,
tesame met diegene wat van kragopwekkers gebruik moet maak, dra by tot reeds hemelhoë
insetkostes.
Vaalharts-distrikslandbou-unie is egter ook bekommerd oor die komende oesseisoen met pakhuise
en verwerkingsaanlegte wat moét werk en kontrakte wat nagekom moet word. Beurtkrag stuur nou
meer as voorheen op ‘n groot ramp af. Vaalharts se landbouers voeg (8 Februarie 2023) hul stem by
duisende ander landbouers wat bekommerd is oor oeste en die gevolge wat dit inhou vir
voedselsekerheid en in die algemeen, die ekonomie van SA.
Ons versoek aan Eskom en die regering is:
• Gee meer krag aan die besproeiingsindustrie of verminder die beurtkragfases
• Verskuif hoëkoste piektye na die “af tye”
• Voorsien alternatief vir duur Ruraflex-tariewe
• Koppel sonplase in die landbousektor wat weens beurtkrag en “off grid” stelsel nie gekoppel is nie,
aan Eskom se netwerk
• Vergemaklik die aansoekproses vir hernubare energieplase en ander alternatiewe

Ons beplan om op Woensdag 8 Februarie 2023 ‘n bewusmakingsveldtog te hou om die boodskap
uit te dra dat Eskom en die regering NOU daadwerklike stappe moet neem om hierdie groot krisis
in die land aan te spreek.
Die bewusmakingsveldtog sal gepaard gaan met ‘n stadig bewegende kavalkade van voertuie en
trekkers deur Hartswater en Jan Kempdorp, op ‘n ordelike en wettige wyse. Landbouers en andere
kom onderskeidelik by die Senwes Silo in Hartswater en by Swiss Gourmet in Jan Kempdorp
bymekaar. Vandaar volg ons ‘n roete deur die dorpe en keer weer terug na die beginpunte. Hier
sal dan persverklaring voorgehou word van die Landbou-unie, landbou-organisasies en -besighede.
Die reëlings en die roetes wat gevolg sal word, is as volg:


In Hartswater:
Mense en voertuie sal omstreeks 08:30 by Senwes Silo (Stasiestraat) bymekaarkom. Van
daar af: regs in Phokwaniweg – Strydomstraat (verby hoërskool) – DF Malanstraat –
links by SAPD, verby Hartswater Courthouse – links in Strydomstraat, verby klein
Gedenkkerk terug na Senwes Silo (Stasiestraat). Van daar af sal almal uitmekaar of via
plaaspaaie na Jan Kempdorp gaan.
In Jan Kempdorp:
Mense en voertuie sal omstreeks 11:00 by Swiss Gourmet bymekaarkom. Van daar af:
links by kruising (R506) – Steyn Van Niekerkstraat – Grensstraat – na Vaalharts
Museum/Trein-gedenkteken. Van daar af sal almal uitmekaargaan.

Uitgereik deur Vaalharts-distrikslandbou-unie

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel