Ramptoestand oor Eskom sal ‘meer skade as goed meebring’

Deel hierdie storie / Share this story

Solidariteit het vandag fel kritiek teen die idee om ʼn ramptoestand weens die voortslepende kragkrisis te verklaar uitgespreek. Volgens Solidariteit is dit eerder die regering se onvermoë om hul huidige magte aan te wend wat tot die krisis gelei het en sal ʼn ramptoestand weereens die deur vir grootskaalse korrupsie en bedrog oopmaak.

Solidariteit voer aan dat dit waansinnig is om die regering met die magte van ʼn ramptoestand te vertrou wanneer hul wanbestuur juis die oorsaak van die ramp is.

“Die ANC-regering wat ʼn ramptoestand verklaar om beurtkrag te hanteer, is soos om ʼn vuur met petrol te blus,” sê Connie Mulder, Hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) “Dit laat ʼn mens koud om te dink dat die regering wat verantwoordelik was vir die verbanning van warm hoender, plakkies en kortbroeke gedurende die vorige ramptoestand nou daardie besluitnemingsvermoë onbeteueld op die kragkrisis wil toepas.”

Solidariteit stel dat hoewel daar sommige oorsigtelike voordele aan die verklaring van ʼn ramptoestand gekoppel is, is die kanse dat sulke voordele sal verwesenlik bitter klein, terwyl die risiko’s verbonde aan die daarstelling van só ʼn bestel vernietigend kan wees.

“Alhoewel dit aanloklik lyk om vinniger besluitneming te kan toepas, is die harde werklikheid dat noodaanskaffing van energie tyd gaan neem. Daar sal moet gespesifiseer word hoeveel MW ons teen watter prys gaan aankoop. Eers daarná sal privaat beleggers opwekkingsaanlegte moet bou en dit dán aan die netwerk kan lewer. ʼn Ramptoestand gaan nie hierdie proses wesenlik versnel nie, bloot die oorsig daaromtrent verslap. Dit skep die nare moontlikheid van ʼn korrupsie-kruising tussen Medupi, Kusile en Covid-aankoopbedrog,” verduidelik Mulder.

Die  antwoord lê, volgens Solidariteit, in minder mag vir die regering en meer vryheid vir die privaat sektor. Daar is reeds genoeg instrumente in die staat se hande om die krisis op te los, aldus Solidariteit.

“Die harde werklikheid is dat bestaande wetgewing reeds voorsiening vir noodaankope van elektrisiteit maak.  Minister Mantashe het reeds in Julie 2020 die bestaande wetgewing gebruik om ʼn program van noodkragaankope aan te kondig. Die minister kan met ʼn eenvoudige regulasie volledig stipuleer hoeveel krag ons oor watter termyn wil aankoop. Indien die president ongelukkig is met die implementering van hierdie instrumente is die aangewese voertuig eerder ʼn bedankingsbrief van minister Mantashe, nie ʼn ramptoestandverklaring nie,” stel Mulder.

Solidariteit argumenteer verder dat dit blyk na ʼn reusemisbruik en wantoepassing van die wet om vir die huidige krisis ʼn ramptoestand te verklaar en derhalwe dat só ʼn besluit waarskynlik nie die mas in die howe sou opkom nie.

Solidariteit se regspan is besig om die saak verder te ondersoek. 

“Die ramptoestandwet is nie ʼn kortpad om prosesse te omseil nie. Dit is bedoel om as reaksie te dien op iets wat buitengewoon onverwags die land tref. Om ʼn ramptoestand vir iets aan te kondig waarvoor daar ʼn hele staatsdepartement is, is sinneloos. Verbeel jou die president kondig ʼn ramptoestand aan omdat ons slaggate in ons paaie het, eerder as om die minister van vervoer te vervang en die departement in die bek te ruk. Die voortslepende kragkrisis is al meer as ʼn dekade met ons. Indien daar enige ramp is dan is dit die ANC se bestuur daarvan,” sluit Mulder af. 

Connie Mulder 
Hoof: Solidariteit Navorsingsinstituut
082 731 8381