Mariaan Strauss, ‘n mamma van Welkom in die Vrystaat, sê haar seuntjie wat sonder armpies gebore is, is vandag ‘n sonstraaltjie in haar lewe wat al sy mylpale bereik, al het dokters aanbeveel dat sy ‘n aborsie kry.
Strauss sê sy wil graag haar storie deel vir elke mamma wat dink dis ‘n doodsvonnis om vir die eerste keer te hoor: “Jou baba is anders”. “Al verander ek net een mamma se gedagte oor aborsie, het ek klaar iets bereik,” sê sy.
Klein Hendré het onlangs sewe maande oud geword en is die paartjie se eerste baba, asook Mariaan se ouers se eerste kleinkind.

“Ek wil graag met julle my storie deel vir elke mamma wat dink dis ‘n doodsvonnis om die eerste keer te hoor: “Jou baba is anders, anders as waaraan ons gewoond is, anders as die samelewing se verwagting van normaal.”
Mariaan vertel hoe sy op 13 weke swanger ál die emosies gevoel het toe sy uitvind Hendré gaan sonder arms gebore word “Ek was daar, elke vlak van grief, verwyt, kwaad, seer, bang en onseker – ek het alles gevoel.”
Op 18 weke swanger moes die paartjie uitvind dat hulle seun ook met ‘n klubvoetjie en sonder ‘n fibula in sy regterbeen gebore sal word. “And it all came crashing down.”
“Want as ‘n ma wil jy die beste gehalte lewe vir jou kind gee, en hoe doen ‘n mens dit dan as alles teen jou tel? Die spesialis het herhaaldelik vir ons gesê ons moet aborteer, ons kind gaan geen kwaliteit lewe hê nie.”
“Maar vandag wil ek getuig van God se genade,want dis groot en dis eindeloos.”

Mariaan vertel laggend hoe Hendré sommer rol wanneer hy by iets wil uitkom.
“My seuntjie sit, hy rol, hy staan, hy bereik al sy mylpale vinniger as wat verwag was. Hy doen dinge wat ek nooit gedink het hy sou kon doen nie!”
“Hy is absoluut die grootste sonstraal in my lewe. As hy jou eers nader trek met daai voetjies en jou omhels, smelt alles. Hy voel, vat en hou alles vas met daai twee voetjies van hom.”
Mariaan se boodskap aan ander mammas:
“Kinders is resilient en met ons Vader se genade kan hulle steeds ongelooflike amazing lewens leef.
“Mamma, as jy vandag dalk nuus gekry het dat jou geskenkie miskien anders gaan wees, wil ek vir jou sê baie geluk, hoe lucky is ons nie om deel te kan wees van hulle groei nie en om by hulle elke dag iets nuuts te kan leer.
“Byt vas en vertrou op God, want hy sal NOOIT iets op jou pad bring wat jy nie kan handle nie.
Vertrou altyd op God.”
Wat die pad vorentoe vir Hendré inhou, is ‘n skoentjie wat opgebou moet word, omdat sy een been 5 cm korter as die ander een is. “As hy groot genoeg is om vir prostese te vra, sal ek alles doen om dit vir hom te kan gee. Maar mens hoor van soveel mense vir wie dit ongerieflik is, omdat hulle alles vinniger en beter met hul voete kan doen.”

















