‘n 13-jarige seun is dood nadat ‘n taxi Sondagaand ‘n koei op die P100 in Ndwedwe, KwaZulu-Natal, getref het.
Verbygaande motoriste het Reaksie-eenheid Suid-Afrika (Rusa) om 18:01 gekontak om bystand op die toneel te versoek. Met hul aankoms was paramedici van die provinsiale ambulansdiens reeds op die toneel.
Daar is vasgestel dat die wit Toyota Quantum ‘n koei getref het voordat die bestuurder beheer oor die taxi verloor het.
Die voertuig het teen ‘n metaalversperring gebots wat die skuifdeur van die voertuig afgeruk het en daartoe gelei het dat die tiener uitgeval het. Die voertuig het by ‘n wal afgestort voordat dit tot stilstand gekom het.
Die bestuurder het van die toneel gevlug. Hy is daarvan verdink dat hy onder die invloed van alkohol bestuur het.
Ses ander kinders het geringe tot matige beserings opgedoen. Hulle is privaat na ‘n mediese fasiliteit vervoer.
Die 13-jarige het kritieke beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar.
Daar word beweer dat die kinders verwant was aan die bestuurder wat hulle na ‘n familielid se woning vervoer het ten tyde van die ongeluk.
Die koei het geringe beserings opgedoen en het die toneel verlaat voor die aankoms van die paramedici – AfriNUUS



