Verrassing! Twee gebore in plaas van een

Deel hierdie storie / Share this story

Bronwyn van der Heever (27) en Roland Vos (25) van Boundaryweg in Brakpan het op 8 Januarie 2023 ‘n verrassing gekry toe Bronwyn in kraam gegaan het.

Nie net moes Bronwyn “‘n baba” wat toe twee was in die lewe bring nie, maar boonop was die eerste baba ‘n brugbaba én sy moes tuis, in ‘n Wendy-huis, geboorte skenk.

Die ouerpaar spog nou met ‘n gesonde seun en dogter.

As gevolg van finansiële beperkinge kon Bronwyn nie vooraf ‘n sonar laat neem nie en het hulle dus nie geweet sy is swanger met ‘n tweeling nie.

Die twee, wat nou hul Wendy-huis met hul tweeling deel, is op soek na werk en ander blyplek.

Reinette van den Heever van Advanced First Responders sê sy weet nie wie die meeste verras was toe die “nageboorte” ‘n babadogter blyk te wees nie.

Zayden (2,6 kg) en Zandalee (2 kg) se ouers was beslis nie voorbereid op hulle altwee nie. En alhoewel hulle babaklere gehad het, was daar hopeloos te min vir twee.

Zandalee en Zayden – Foto verskaf met toestemming van ouers

Bronwyn het ook nie genoeg melk om beide die babas te voed nie.

Toe Bronwyn om 17:00 in kraam gaan, was daar nie ‘n motor om haar na ‘n hospitaal te neem nie.

Reinette sê dat sy, Adél Cronjé de Jager en Janey Bowie, eerste by die mamma opgedaag het. Om 17:20 het hulle ‘n staatsambulans ontbied. Bronwyn het reeds om 18:00 begin geboorte gee. Hulle moes twee uur lank vir die ambulans wag omdat daar nie dadelik een beskikbaar was nie. Toe die ambulans om 20:13 daar aankom, was die babas reeds gebore.

Reinette sê omdat hulle First Responders is, mag hulle nie pasiënte vervoer nie, maar is hulle deur Dawie Keyser ‘n ILS (intermediate life support) van Springs bygestaan wat daar aangekom het toe Zandalee, die verrassingsbaba, gebore is.

“Ons is wel geleer hoe om babas te vang, maar verkies dat babas in die hospitaal gebore word omdat ons nooit weet watter komplikasies daar moontlik kan wees nie.”

“Gesien in die lig dat Zayden ‘n brugbaba was, kon die geboorte soveel anders uitgedraai het,” sê sy.

Mamma en babas is na die Verre Oos-Rand-hospitaal geneem waarna hulle die volgende dag ontslaan is.

Reinette verduidelik hoe Zayden se voet so groot soos haar duim is, dat hulle gesond is en goed doen en hoe Zandalee nie in klere pas nie.

Daar het reeds ‘n bietjie donasies ingekom vir die tweeling.

Daar word gesoek na ‘n beter blyplek vir die gesin, aangesien die Wendy-huis waarin hul tuis is se dak lek en dit andersins ondraaglik warm word. Roland is dringend op soek na werk, sodat Bronwyn nog ‘n rukkie by die babas kan deurbring.

Die babas het formulemelk, doeke, klere en ander bababenodigdhede nodig, sowel as nie-bederfbare voedsel vir die ouers.

“Daar is nie eers ‘n kas in die vertrek nie,” sluit Reinette af.

Omdat die ouerpaar nie een ‘n selfoon het nie, kan enige persoon wat die ouerpaar wil ondersteun met Reinette kontak maak by 064 400 9502. Sy sal enige skenkings vir hulle koördineer.

Sy is behalwe as Advanced First Responder betrokke by Instrument of God and Daily Bread NWO wat mindervoorregte gesinne en bejaardes ondersteun.

Sy skryf hul kundigheid toe aan twee Springs ILS’e, Danie Roodt (Jodamed EMS) en Dawie Keyser (Saints EMS) by wie hulle hul opleiding ontvang het en wie steeds bystand gee en saam na tonele gaan wanneer dit nodig is.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.