Die NSRI het met nege ritte 82 persone wat aan boord van ‘n vaartuig wat in Hartebeespoortam se opdrifsels vasgevang was, na veiligheid gebring. Die operasie het Saterdag 21 Januarie 2023 om ongeveer 15:00 begin. Die boot waarop die 82 persone was, was in nette, opdrifsels en hiasinte vasgevang.
Arthur Crew, NSRI Hartebeespoortdam se stasiebevelvoerder, sê die vaartuig, genaamd “The Alba” van die Harties Boat Company met kaptein, bemanning en passasiers moes na veiligheid gebring word.
Die boot se enjin-propellers was vasgevang in ou visnette, opdrifsels en natuurlike opdrifsels van hiasinte wat tussen 1.2 en 1.4 m hoog was. Die opdrifsels, wat onder die water was, het verhoed dat die boot gesleep kon word.
Met die aankoms op die toneel van die NSRI se reddingstuig en die strategiese reddingseenheid se reddingstuig het die kaptein en nege bemanningslede aan boord reeds die 72 passasiers veilig in lewensreddingsbaadjies gehad. Almal was gehidreer en ingelig oor noodprosedures wat gevolg gaan word. Die kaptein en sy bemanningslede ontvang gereelde veiligheidsopleiding en advies van die NSRI.
Nege ritte is deur reddingstuie gemaak om die kaptein, bemanningslede en passasiers veilig aan land te bring, alhoewel die reddingsoperasie vertraag was deur die digte hiasinte.
Daar was geen beserings aangemeld nie en die reddingsoperasie was teen 17:30 voltooi.
Daar was aanvanklik besluit om die vaarskip eers Sondag na die land terug te bring, maar ongeveer ‘n uur nadat die reddingspoging voltooi was, het die hiasinte op ‘n natuurlike manier begin wegdryf. Die strategiese reddingseenheid, Rescue 1, kon hierna die vaartuig, sonder enige verdere insidente, deur die digte hiasinte stuur.
Die wyse waarin die kaptein en sy bemanninslede veiligheid toegepas en prosedures nagekom het, is raakgesien en geprys.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



