Siya Kolisi verlaat Sharks vir Franse klub Racing 92

Deel hierdie storie / Share this story

Die Sharks het die Springbok-kaptein Siya Kolisi ‘n vroeë vrystelling van sy kontrak toegestaan. Hy sal ná die 2023 Rugbywêreldbekertoernooi in September by die Franse klub Racing 92 aansluit.

Kolisi het 2021 by die Haaie aangesluit vir ‘n vyfjaarkontrak, maar het daarna besluit om sy loopbaan in Frankryk uit te speel waar hy kwaliteittyd saam met sy gesin weg van die Suid-Afrikaanse kollig kan geniet.

Die Sharks het gekies om nie in sy pad te staan nie en hoewel hulle waarskynlik sal baat by ‘n gesonde oordragfooi wat deur die Paryse klub betaal word, gaan dit eerder daaroor dat hulle die wense van ‘n speler wat ‘n indrukwekkende impak by die Sharks gemaak het, respekteer.

Die goeie nuus vir Sharks-ondersteuners is dat Kolisi vanjaar vir die Sharks in die Heinekenbeker en die United Rugby Championship sal speel.

Kolisi het sy dankbaarheid teenoor beide die Sharks en Racing 92 uitgespreek.

“Dit was ‘n ongelooflike samewerkingspoging tussen die Sharks en Racing 92 wat my in staat gestel het om ‘n nuwe hoofstuk in my loopbaan te begin. Ek wil baie dankie sê aan die Sharks dat hulle my in 2021 met ope arms verwelkom het terwyl hul ondersteuning oor die laaste paar jaar geweldig invloedryk was gedurende ‘n belangrike tydperk in my loopbaan. Ek is ongelooflik dankbaar dat die Sharks my hul seën gegee het om hierdie skuif te maak, en dit spreek vanself dat ek oor die volgende paar maande my alles vir die span sal gee.”

Bronne: IOL, Planet Rugby

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel

Lees ook: Somer is sonbriltyd