‘Geen plek vir rassisme’ sê Ramaphosa ná vermeende rasvoorval by Maselspoort

Deel hierdie storie / Share this story

“Rassisme het geen plek in Suid-Afrika nie.”

Só sê pres. Cyril Ramaphosa, wat byvoeg mense wat rassisties is, streng gevolge kan hê.

In ‘n verklaring sê die president: “Ons grondwet bedoel presies wat dit verklaar. Suid-Afrika, en dit beteken alles van Suid-Afrika, behoort aan almal wie daarin woon.

“Dis betreurenswaardig dat grootmense wat met tieners te doen het hulself tot geweld wend, met ontstellende gemak, en om mense fisies seer te maak.

“Volgens wet moet ons die ondersoek sy gang laat gaan, maar onder die wet kan en moet ons ook verklaar dat rassisme geen plek in ons samelewing het nie en dat rassiste geen plek het om hulle weg te steek nie.”

Ramaphosa se verklaring volg enkele ure nadat lede van die EFF op Boxing Day opgeruk het na die Maselspoort-oord, na ‘n vermeende rasse-voorval teen twee swart seuns op Kersdag.

Maandag het van die EFF-lede by die oord in Bloemfontein rondom die swembad gestaan en sing, terwyl ander op die swaaie gespeel het. Daar was ook diegene wat die geleentheid gebruik het om in die swembad te spring en te swem.

Volgens die politieke party was hulle by die oord om hul woede te toon, na die voorval Sondag waar verskeie wit mans na bewering met twee swart tienerseuns slaags geraak het. ‘n Video van die voorval is wyd op sosiale media versprei.

In die video kan gesien word hoe ‘n wit man ‘n 13-jarige seun klap, wat dan terug in die swembad gegooi word. Die man se hande is ook om die 18-jarige se nek.

Nog ‘n man probeer die seun se hare trek en een van die mans stoot een van die seuns in die swembad, en dit lyk of hy probeer om die kind se kop onder die water druk. Die video eindig waar die man die een tiener aan die kop in die swembad trek.

Intussen het die minister van toerisme, Lindiwe Sisulu, ook in ‘n verklaring gesê sy neem met “utter disgust” kennis van die voorval.

“Gevalle van rassisme by toeristegeriewe het ‘n negatiewe impak op die toeristesektor, wat nog herstel van die verliese van die Covid-19-pandemie.

“My beroep op die wetstoepassingsagentskappe is om seker te maak die oortreders word verantwoordelik gehou, om ‘n boodskap te stuur dat voorvalle van rassisme geen plek in ons demokrasie het nie.”

Intussen het die polisie in die Vrystaat bevestig ‘n saak van aanranding word ondersoek.