Ysterstaaf van trok deurboor verkeersbeampte

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Verkeersbeampte is in die hospitaal nadat ‘n ysterstaaf in haar bors gesteek het.

Beampte Misiwe Nongalo, gestasioneer by Straundale-verkeersstasie in Gqeberha, was op twee dae gesinsverantwoordelikheidsverlof en op pad huis toe na Whittlesea toe sy in ‘n bisarre ongeluk betrokke was.

Die ongeluk het op Dinsdag, 20 Desember, op die R67-pad tussen Makhanda en Fort Beaufort plaasgevind.

Toe twee voertuie op die punt was om mekaar verby te gaan, het ‘n ysterstaaf van die vragmotor losgekom, en soos ‘n spies deur die lug gevlieg, deur haar motor se voorruit gesteek, haar in die bolyf getref en haar bewusteloos geslaan.

Daar word beweer dat die ysterstaaf losgekom het van ‘n vragmotor wat in die teenoorgestelde rigting gery het.

Nongalo se 16-jarige seun, wat saam met haar in die voertuig was, het daarin geslaag om die voertuig van ‘n steil wal af weg te stuur en het hulp ontbied.

“Ons is dankbaar dat offisier Nongalo se lewe gespaar is in hierdie baie bisarre ongeluk. Ons gedagtes en gebede is met haar terwyl sy steeds mediese aandag in die hospitaal ontvang,” sê Xolile Nqatha, LUR vir vervoer.

“Ons wil ook ‘n woord van vertroosting oordra aan die jong man wat dit moes aanskou. Ons salueer hom vir sy dapperheid, dat hy die voertuig van verdere skade kon wegstuur en dat hy onmiddellik bystand vir sy ma ontbied het. Dit wys hoe kosbaar en hoe broos die lewe kan wees,” het Nqatha gesê.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.