Ontmoet een uit twee miljoen: ‘n Down-sindroom tweeling

Deel hierdie storie / Share this story

Toe Savannah Combs swanger was met ‘n identiese tweeling, het sy geen idee gehad dat hulle met Down-sindroom gebore sou word nie, berig in Live Action.

Fotokrediet: Daily Mail

Al het Combs tydens swangerskap bloedtoetse ondergaan, het die toetse nie die sindroom aan die lig gebring nie, waarskynlik weens die feit dat hulle ‘n mono-di-tweeling was – babas wat hul eie sakkie het, maar dieselfde plasenta deel.


Combs het indringende toetse geweier om uit te vind of die babas enige onderliggende gesondheidskwessies het. “Die enigste manier waarop ek kon uitvind, is deur amniosentese, en ek het onttrek omdat dit ‘n miskraam kan veroorsaak, en ek wou nie enige van my babas verloor nie. En ek sou hulle liefhê net soos hul is.”


Die ma van Jacksonville, Florida, het haar “kosbare juwele” ses weke vroeg in die wêreld verwelkom. Kennadi Rue en Mckenli Ackerman was vir vier weke in die NICU.

Fotokrediet: Daily Mail


Die babas floreer, en Combs wil graag met die wêreld deel dat hulle net soos enige ander babas is.


“Hulle het gevoelens. Hulle het kloppende hartjies. Hulle weet hoe om te praat. Hulle weet hoe om dinge te doen wat jy doen. Hulle sal daar kom. Soos ek gesê het, hulle is dalk ‘n stap agter, maar hulle gaan dit doen. Ek het geleer hierdie kinders is vurige en gelukkige klein goedjies,” het sy in ‘n onderhoud met News4Jax verduidelik.


Die liefdevolle ma het ook gedeel die kanse om ‘n identiese tweeling met Down-sindroom te kry, is een uit twee miljoen.

Alhoewel hierdie wondertweeling ‘n ware seën vir Combs is, wat sy dikwels met haar 25 000 TikTok-volgelinge deel, sien ander dit nie altyd so nie.

Fotokrediet: Daily Mail


‘n Persoon het op die ma se Facebook-blad gesê: “Ek sou nie daardie babas wou hê nie, as myne so uitkom, sou ek hulle reguit vir aanneming gegee het.”

Combs het die perfekte reaksie gehad en gesê: “Goed dat hulle nie joune is nie. God het geweet wat Hy doen deur hierdie babas aan die regte ouers te gee wat hulle sou liefhê ongeag wat.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.