FiND iT het op 27 Oktober die storie oor Delarize Stevenson (14) vertel wat met osteosarkoom (stadium 3) gediagnoseer is ‘n maand nadat sy by die skool geval het en daar aanvanklik eers gedink is dat haar been beseer is.
Dit is kort voor Kersfees en hierdie moedige dogter veg voort. Sy het reeds vanaf 17 Oktober af gereelde chemoterapie en ‘n bloedoortapping ontvang en weeg in hierdie stadium ongeveer 30 kg.
Haar pa het hom vier dae gelede na Facebook gewend en pleit vir befondsing. R540 000 moet ingesamel word vir ‘n dokter in die Kaap wat bereid is om haar te help met rekonstruktiewe chirurgie en om die gewas te verwyder sonder dat haar been teen haar heup afgesit hoef te word om haar lewe te red. Dit sluit ook verblyfkostes vir die gesin in om by haar te wees.
Delarize is al vir weke in Johannesburg- algemene hospitaal en die behandeling is volgens haar pa baie goed, maar hulle wil graag ‘n poging aanwend om haar been te red.
Kersvader het Sondag 18 Desember by haar gaan inloer.
Intussen het Delarize van haar hare verloor en sy sukkel soms om te eet. Sy veg steeds daagliks teen infeksie, maar het deurentyd ‘n glimlag op haar gesig.
Indien jy in staat is om te kan help, is Willem, Delarize se pa se selfoonnommer aan die onderkant van haar storie. Daar is ook verskeie fondsinsamelingpogings en ‘n back-a-buddy blad:

Capitec Bank
D Stevenson
Rek. nr. 2023021525
Hier is haar storie:
Met die val by die skool het haar been geswel en is dit vir ‘n seer spier met oor-die-toonbank-medikasie behandel. Die kliniek wat sy besoek het, het wel pille voorgeskryf.
Dit het nie beter gegaan nie en haar ouers het besluit om haar op 12 September na dr. Botha te neem.
“Hy het gekyk of daar enige vog of bloed in die been is en gesê ons moet haar dadelik vir X-strale neem.”
Op 13 September is sy na Pholosong-hospitaal vir X-strale geneem, waarna sy dadelik na Johannesburg se algemene hospitaal verwys is, waar onder andere bloedtoetse en nog X-strale geneem is.
Delarize is op ‘n drup gesit omdat haar potassiumvlakke laag was. ‘n MRI-skandering sowel as ‘n CT scan is gedoen. Op die 26ste September is ‘n biopsie van haar been gedoen en ‘n dag later is sy weer vir ‘n skandering.
“Die dokter het gesê ons moet vir al die uitslae wag.”
“Op die 11de Okober is daar besluit om haar na die kankersaal toe te skuif.”
En hier is waar die tameletjie begin het:
“Die hospitaal is regtig goed vir haar en ons is dankbaar vir die 10 weke chemoterapie wat sy sal ondergaan, maar ons is ongelukkig omdat haar been na behandeling tot teen die heup geamputeer moet word.”
Delarize se ouers wil graag ‘n tweede mening aanvra, omdat hulle nie net die been wil laat amputeer nie.
“Geen mens moet vir hulle kind vertel dat die enigste manier om gesond te word, is om jou been af te sit en dat sy nooit weer soos ‘n normale kind sal kan loop of hardloop nie.”
‘n Opsie, volgens haar ouers, is om na Van Ness rotationplasty te kyk, wat reeds op ‘n seun van vyf by ‘n hospitaal in die Kaap toegepas is, waar jou onderbeen en enkel gebruik word om ‘n bo-been en knie te vorm. En dan kan daar steeds van ‘n prostese gebruik gemaak word.
In hierdie stadium is die finansies van die gesin, waarvan Delarize die tweede oudste kind en die enigste dogter tussen vier seuns is, benard. Hulle het ook nie familie en vriende in die Kaap nie.
Mediese onkostes kan duisende rande beloop.
Pa Willem spreek sy kommer uit dat Delarize, wat reeds so petite gebou is, tans sukkel om te eet. Sy het reeds een rondte chemoterapie ondergaan en gaan oor twee weke weer.
Indien daar enige persoon is wat hierdie moedige dogter en haar familie kan help om tot in die Kaap te kom en te huisves, asook kostes om dr. Thomas Hilton te sien, te help dra, vra Willem dat hulle hom asseblief by 083 671 1630 moet kontak.
Die prosedure is reeds suskesvol deur dr. Hilton, ortopediese chirurg vir onkologie en gewrigsvervanging by Life- ortopediese hospitaal by die Life Vincent Pallotti-hospitaal in Pinelands gedoen.
Lees die artikel van die operasie https://www.bizcommunity.com/Article/196/335/232466.html
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



