Twee gewapende aanvalle op paramedici van een basis binne paar uur

Deel hierdie storie / Share this story

Paramedici het twee dae gelede ‘n protesaksie teen aanvalle op hul beamptes geloods. Dit het geen effek gehad nie. Twee aanvalle is binne die bestek van ure op dieselfde basis se ambulans uitgevoer. Die beamptes is getraumatiseer.

Gauteng Emergency Services sê ‘n ambulans van die ODI-basis is Vrydagaand om ongeveer 22:44 na ‘n area in Lebanon, noord van Tshwane, uitgestuur.

Terwyl die beamptes die pasiënt behandel het, is hulle deur vermeende gewapende rowers aangehou en van waardevolle items besteel.

Die volgende items is gesteel: CardioMax ECG/Defibrillator, BLT-pasiëntmonitor, ‘n “jump bag”, Cross Call Core-4 tablet en een van die beamptes se persoonlike sak en selfoon.

Hierdie area is na die aanval as ‘n rooi sone gemerk en sal nie hulp van nooddienste ontvang, tensy hulle nie deur die SAPD vergesel is nie.

Dit gaan hulp aan die gemeenskap aansienlik vertraag.

Indien enigiemand hierdie genoemde items raaksien, moet hulle onverwyld Gauteng-EMS of die SAPD kontak.

Om ongeveer 01:00 vanoggend het die ambulans van dieselfde basis na Boekenhout-kliniek reageer op ‘n noodoproep.

Terwyl beamptes in die ambulans besig was, is hulle deur gewapende rowers oorval, aangehou en van persoonlike sowel as die GEMS Cross Call-tablet beroof.

Die beamptes is nie beseer nie, maar is na ‘n hospitaal geneem vir ‘n gesondheidsondersoek en berading.

Die betrokke basis was verder gedurende die nag gesluit en geen ambulans was beskikbaar om die gemeenskap te dien nie.

Gauteng Emergency Services sê die gemeenskappe in die area van ODI-basis neem nie verantwoordelikheid vir die dienste wat aan hul gebied word nie en is ook nou as ‘n rooi sone gemerk.

Gauteng Emergency Services vra dat enige persoon wat oor inligting beskik oor die aanvallle na vore moet kom en versoek die SAPD om die aanvalle op EMS ernstig op te neem en dit ‘n prioriteitsmisdaad te maak.

‘n Ander kommerwekkende voorval, waartydens gemeenskapslede die reg in eie hande geneem het en ‘n pasiënt op Maandag 21 Oktober binne-in ‘n ambulans te Mshongoville, ‘n informele nedersetting in Atteridgeville, Tshwane doodgemaak het, het nooddienspersoneel getraumatiseer.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.