Om saam deur polisie-opleiding te gaan, het vir twee studente beteken dat hulle niks vir mekaar kan wegsteek nie en mekaar op elke vlak, persoonlik en professioneel, moes leer ken en aanvaar.
Die mooi, en die nie so mooi nie.
Hul vriendskap het met gedeelde belangstelling gegroei van rekrute wat op ‘n bus na die polisie se Atteridgeville-opleindingskollege klim, na ‘n paartjie wat vasberade is om ‘n verskil te maak om die burgers van Suid-Afrika te beskerm, maar wag hier kom die twist – om oor ‘n paar jaar te trou en saam selfs meer sukses te bereik.
Maileene Dreyer het sedert 2016 haar droom nagejaag om ‘n polisielid te word. Sy het jaar na jaar aansoek gedoen om aan te sluit. Elke jaar het sy al die toetse deurgemaak en niks gehoor nie.
Hierdie jaar het alles soos blits in plek geval en in Februarie het sy al die finale dokumentasie vir die indiensnemingsproses ingevul. ‘n Enkele drie dae voordat sy by die akademie moes aanmeld, het sy die boodskap waarvoor sy al vir soveel jare wag, ontvang. Sy moes in daardie drie dae alles reël en almal groet.
Op 1 April was dit D-Dag om op die bus te klim wat haar lewe vir altyd sou verander en haar ‘n trotse lid van die SAPD te maak.
Op die plek waar sy die bus moes haal, ontmoet Maileene ‘n mede-student, Marcéll Beukman, ook op pad na die polisie se opleidingsakademie in Tshwane.
Gedeelde passie het vir die twee ‘n gedeelde lewe geword en die twee het uitgevind dat hulle nie net ‘n gesamentlike aanstellingsdatum het nie -die een wat hulle nog oor en oor elke dag in hul loopbane gaan gebruik – maar nog boonop ‘n verjaarsdag ook deel.
Hulle beplan om na hul uitpassering en uitplasing na hulle standplase saam in te trek en oor ‘n paar jaar te trou. Praat jy met hulle kan jy die opgewondenheid en afwagting aanvoel.
“Ons het altwee ‘n passie vir die polisie, ons wil ‘n diens lewer aan die mense van Suid-Afrika en ons wil mense beskerm en dien.”
Maileene sien uit daarna om mense wat hulself nie kan beskerm nie te beskerm en wil ‘n onpartydige diens aan alle mense van die land bring. Haar mikpunt?
“Ek wil die mees geharde misdadigers aan die pen laat ry.”
“Ek het ‘n passie om gevaarlike take aan te durf wat ander afskrik, om veiligheid in my land te verseker.”
Marcéll wil deesdae se stigma omtrent die polsie verander.
“Ek wil ‘n verskil maak en wys hoeveel goeie polisiemanne en-vroue daar is.”
Die jongman se kop staan honde-eenheid toe.
“Ek wil graag dwelmmisdade beveg met ‘n patrolliehond sodat die jeug van vandag ‘n beter toekoms kan hê.”
“Ek sil sien hoe my werk families heel maak.”
Hulle ondersteuningsnetwerk is baie goed en in die akademie het hulle ook al kans gehad om vele kulture, tale en gewoontes aan te leer, wat vir hulle ‘n fees is.
Die twee het tot nou hul paadjies afsonderlik én gesamentlik geloop. Hulle sien uit daarna om elke moontlike opleidingskursus wat oor hul pad kom aan te gryp om meer en meer kennis op te doen op verskillende gebiede om van hulle beter polisielede te maak.
Die twee, wat halsoorkop verlief geraak het toe daar nie tyd was om altyd hare te kam en mooi te lyk vir mekaar nie, beplan alles saam – aan twee individuele beroepe in die polisie, maar saam vir een doel – om te beskerm en te dien.
Servamus et Servimus.
…….’n lewe saam…en ‘n moontlike troue in 2023.
“Ja ons gaan alles hand aan hand aanpak – soos die akademie – beplanning vir ‘n lewe saam, kinders, maar dit is die Here se planne wat ons moet volg.”
Hulle streef na woorde wat hulle elke dag in die akademie gehoor het: “Don’t try to be me, try to be better than me.”
13 Desember 2023 het vir hulle en vele ander in ‘n waas van opgewondenheid op ‘n reënerige oggend aangebreek, ‘n oggend waarin alles blink gepoets word – skoene, knope – en die aantrek van die “polisie tunic” – ‘n absolute eer om aan te hê en op ‘n parade te staan waar hulle nou as volwaardige polisielede beskou word.
Lt.kol. Robert Netshiunda van SAPD Nasionale Hoofkantoor sê die twee konstabels is duidelik twee voorbeeldige individue.
FiND iT wens elke polisielid wat hierdie week volwaardig hul uitpasseringsparade bygewoon het ‘n veilige en wonderlike loopbaan toe.
‘n Uitnodiging na Maileene en Marcéll se huwelikseremonie word afgewag en FiND iT sal hul loopbane met belangstelling dophou.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



