Drie jong seuns is dood nadat hulle die naweek in ‘n ysbedekte meer in Sentraal-Engeland geval het, het die polisie Maandag gesê, terwyl dele van Brittanje oornag met ‘n swaar sneeuvalkombers bedek is.
Die seuns, onderskeidelik 11, 10 en 8 jaar oud, is Sondagmiddag saam met ‘n 6-jarige in ‘n kritieke toestand uit die meer in Solihull gehaal en hospitaal toe geneem. Die 6-jarige was in ‘n kritieke toestand, berig Reuters.
“Die seuns se dood is ’n tragedie sonder woorde,” het Richard Stanton van die plaaslike brand-en-reddingsdiens op ’n nuuskonferensie gesê.
“Gister se voorval is ‘n herinnering aan ons almal van die gevare van oop water, veral gedurende die wintermaande.”
Nooddienste is Sondag net ná 14:30 na die toneel ontbied. Volgens Reuters het lede van die publiek in die water ingegaan om die seuns te probeer help. Richard Harris van die West Midlands-polisie het gesê soektogte sal voortgaan vir so lank as wat dit neem totdat hulle seker is daar is niemand anders in die meer nie ná teenstrydige berigte dat nog kinders dalk ingeval het.
Hy het gesê een beampte is vir ligte hipotermie behandel nadat hy in die water gegaan het om die kinders te probeer red, maar is uit die hospitaal ontslaan.
“Een van my beamptes het deur die ys probeer breek om die kinders te red,” het Harris gesê. “Die beamptes het reguit in die water ingegaan, sonder om hul eie veiligheid in ag te neem. Hulle het in ‘n gewone broek en skoene in die water ingegaan.”
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



