Gratis kondome vir jongmense in Frankryk

Deel hierdie storie / Share this story

Jongmense in Frankryk sal vanaf Januarie gratis toegang tot kondome hê, in ‘n poging om die verspreiding van seksueel oordraagbare infeksies (SOI) te verminder.

Die Franse president het Donderdag die nuwe gesondheidsmaatreël aangekondig. Emmanuel Macron het gesê jongmense sal dit by apteke kan afhaal, en beskryf die stap as ‘n “klein revolusie in voorkoming”.

In 2020 en 2021 het Frankryk ‘n nasionale toename van 30% in seksueel-oordraagbare siektes ervaar. Mnr. Macron het gesê Frankryk het opvoedkundige uitdagings rondom seksuele opvoeding.

“Ons is nie baie goed met hierdie onderwerp nie. Die werklikheid is baie, baie anders as die teorie,” het hy gesê.

Die nuwe maatreël kom saam met ander gesondheidsinisiatiewe wat die verspreiding van SOI’s teiken en toegang tot voorbehoedmiddels verbeter.

In 2018 het die Franse regering begin om die koste van kondome aan individue te vergoed, indien dit in ‘n apteek gekoop word met ‘n voorskrif van ‘n dokter of vroedvrou.

Vroeër vanjaar het die regering voorbehoedmiddels gratis gemaak vir alle vroue tot 26 jaar oud – ‘n stap wat drie miljoen vroue geraak het. Voorbehoeding was voorheen gratis vir vroue en meisies 18 of jonger.

Mnr. Macron het in ‘n twiet bygevoeg dat Donderdag se aankondiging ter ondersteuning van ander gesondheidsmaatreëls is. Dit sluit gratis noodkontrasepsie uit apteke in vir alle vroue tot en met 26, en gratis behandeling vir SOI’s, sonder ‘n voorskrif, behalwe vir MIV..

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel