Vrou probeer glo lewe neem ná DBV hond uitsit

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Vrou van Bloemfontein het glo pille gedrink nadat die DBV in Bloemfonetin haar pitbull uitgesit het.

Liezel Jansen (45) wou haar pitbull in veilige bewaring plaas nadat mense in haar woonbuurt glo gedreig het om die pitbulls dood te maak en sy gevrees het dat haar hond vergiftig sou word.

Jansen het haar geliefde pitbull, Chloe, na ‘n ineenstorting in 2018 gekry en nog nooit weer haar lewe probeer neem nie.

Jansen is verlede Saterdag na die DBV om vir Chloe te gaan haal, toe sy in kennis gestel is sy is uitgesit.

Een van die aktiviste van Pitbull Lives Matter het aan FiND iT vertel Jansen het net daar ineengestort.

Sy het later die dag pille gedrink. Haar suster het onraad vermoed toe sy ‘n boodskap van Jansen kry wat vra dat sy mooi na haar kinders moet kyk en ‘n ambulans ontbied.

Sy was reeds in ‘n koma toe sy opgeneem is.

Reinet Meyer, hoofinspekteur van die DBV, sê Jansen het die vorm geteken wat beteken sy oorhandig haar pitbull aan die DBV. Dit gee hulle die reg om na goeddunke met die hond te handel. Meyer sê die inspekteur het alles aan Jansen verduidelik.

Die hond is geassesseer en was aggressief en sou dus nie by ‘n ander huis, of tussen ander diere kon aanpas nie en dis waarom hy uitgesit is.

Meyer sê die DBV gaan nie die bewyse van die assessering toon of die persoon wat die assessering doen se naam bekendmaak nie.

“Die mense het Saterdag 3 Desember soos barbare voor die hekke aangegaan. Indien ons die naam van die persoon bekendmaak, gaan hulle weer soos barbare aangaan voor die persoon se huis.”

Daar was ‘n optog na die DBV van die Pitbull Lives Matter-groep om ‘n memorandum te oorhandig oor vrae oor pitbulls en hoekom hulle uitgesit word.

Meyer het glo aan die aktivis en Jansen op die dag van die optog erken dat Chloe dieselfde dag uitgesit is.

Volgens die aktivis is daar e-posse tussen Jansen en Meyer waarin Jansen vra dat sy graag vir Chloe wil terughê en dat sy selfdoodneigings kry en net haar hond wil gaan haal.

Volgens die aktivis het Meyer op geen van die e-posse geantwoord nie.

Meyer het aan FiND iT erken dat Chloe op dieselfde dag dat sy ingeneem is uitgesit is en dat hulle kenners van diere is en dadelik ‘n observasie kan maak of ‘n pitbull aggressief is of nie.

Meyer sê verder hulle ontvang tot 800 honde per maand en dat sy Chloe dalk verwar het met ‘n ander hond en dis dalk die rede dat sy Jansen laat glo het dat Chloe lewe. “Ek kan nie 800 verskillende honde onthou nie.

“Mense moet verstaan dat die pitbulls nie ons enigste fokus is nie en dat die DBV baie besig is, veral in Desember. Indien ek nie op die e-posse gereageer het nie, vra ek om verskoning, maar ons is baie besig.

Meyer sê sy het die memorandum ontvang en sy beskou dit as afgehandel. Sy gaan ook na vandag nie verder met die media of enige pitbull-ondersteuner praat nie.

“Die lewe gaan nie net oor pitbulls nie, daar is baie ander diere om op te fokus en ons beskou die saak as afgehandel.”

Volgens Meyer gaan die DBV ‘n saak van saakbeskadiging en laster oopmaak, vermoedelik teen die mense wat Saterdag daar was.

Jansen en Chloe. Fotokrediet: Netwerk24.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel