Jan Hendrik Bekker (40) van Akasiastraat in Golfpark is Sondagoggend 27 November doodgeskok toe hy takke van ‘n moerbeiboom in sy erf gesnoei het.
Hy was ‘n elektrisiën van beroep en volgens sy vrou Yolanda (44) het hy uit die boom geval en op sy rug op die grond te lande gekom. Volgens haar het hy ‘n merk op sy hand en op sy voet gehad waar die elektriese stroom in en weer uit is.
Daar word vermoed dat die krag van die hoogspanningskabel gespring het na waar hy besig was om die takke met ‘n kettingsaaag af te saag.
Die insident het onmiddellik hul huis se krag uitgeskop. Volgens Yolanda het Eskom ‘n serwituut oor ‘n gedeelte van hul eiendom en hulle voel dit hul plig om die takke by die hoogspanningskabels te snoei, wat die energieverskaffer vir die laaste drie jaar glo nie gedoen het nie. Die takke wat aan die kragkabels geraak het, het glo gereeld aan die brand geraak.
Yolanda sê hulle het raad probeer inwin en het glo met die munisipaliteit en die brandweer daaroor gepraat, wat glo van mening was dat hulle die takke self moes snoei omdat dit ‘n brandgevaar inhou.
In die verlede sou die kabels afgeskakel word alvorens Eskom uitkom en met ‘n cherry picker die takke snoei.
Jan-Hendrik was die enigste broodwinner.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



