‘n Sewejarige meisie is glo deur ‘n afleweringspersoon wat haar Kersgeskenk – Barbie-poppe – moes aflewer, ontvoer en vermoor.
Athena Strand van Texas, VSA, se liggaam is twee dae na sy ontvoer is 200 m van haar pa en stiefma se huis gevind.
Volgens Strand se stiefma het sy en Strand omstreeks 18:00 ‘n uitval gehad, waarna Strand uit die kombuis gestorm het en sy aandete begin voorberei het.
Sy het Strand na ‘n rukkie gaan soek, maar kon haar nêrens in die huis kry nie. Na ‘n uur se soek het sy Strand teen 18:40 by die polisie as vermis aangemeld. ‘n Soektog is deur die polisie geloods waaraan meer as 300 lede van die gemeenskap meegedoen het.
Strand se liggaam is Vrydag, twee dae later, deur die polisie gevind.
Volgens CNN het ‘n anonieme persoon die polisie in kennis gestel dat die 31-jarige Tanner Lynn Horner moontlik betrokke is.

Horner werk vir die afleweringsmaatskappy, FedEx, en was glo op pad na Strand se huis om haar Kersgeskenk af te laai toe hy haar glo in haar ouerhuis se motoroprit opgelaai het. Volgens ‘n nadoodse ondersoek is Strand binne ‘n uur na haar ontvoering vermoor.
Horner, wat skuld beken het, is tans in aanhouding.
Haar pa was ten tye van die moord op ‘n jagtog.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



