’n Man van Nigel is tot 24 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy sy hoogswanger meisie met ’n pik doodgeslaan het.
Brian Thamsanqa Somfaka (34) het Woensdag in die Gautengse hooggeregshof in Pretoria vir vonnisoplegging verskyn nadat hy in November aan die moord skuldig bevind is.
Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag is Somfaka daaraan skuldig bevind dat hy sy 28-jarige meisie op 21 Augustus verlede jaar met ‘n staalpyp aangerand het. Sy was toe 38 weke swanger met hul derde kind.
Ná die aanranding het Somfaka ‘n ambulans ontbied. Sy meisie is na die Pholosong-hospitaal geneem, waar sy later as gevolg van die beserings beswyk het.
“Ter verswaring van vonnis het adv. Gerhard Maritz aan die hof gesê die oorledene is sonder rede op ‘n baie wrede wyse met ‘n pik aangerand en sy het doodgebloei, selfs met die hulp van mediese personeel,” het Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, gesê.
“Sy was swanger en weerloos teen die aanval. Hy het verder bygevoeg dat die beskuldigde geen berou getoon het oor sy optrede nie.”
Die hof het ook gehoor dat Somfaka sewe vorige veroordelings gehad het vir poging tot moord, aanranding, diefstal en die onwettige besit van dwelms.
Regter Tshifhiwa Maumela het bevind Somfaka toon geen berou nie en het selfs ‘n arrogante houding teenoor die oorledene se familie in die hof aangeneem.
Maumela het ook bygevoeg dat dit nie aanvaarbaar is dat ‘n mens se harde opvoeding hulle die reg gee om ander se regte te misbruik en, in hierdie geval, ‘n onskuldige persoon dood te maak nie.
Die NVG het gesê hy verwelkom die vonnis en sal ook ‘n aansoek om enige verlof tot appèl teenstaan.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



