Gesinstyd met God: Die ideale Kersgeskenk vir gesinne

Deel hierdie storie / Share this story

Louise Viljoen is ’n taalpraktisyn, manuskripontwikkelaar en boekresensent van Jeffreysbaai. Sy is onlangs deur die Afrikaanse Woordkunsakademie met die Orde van die Beiteltjie vereer vir haar volgehoue geesdrif, betrokkenheid, deelname en eiesoortige sigbare
resultate met verskeie aspekte van die Afrikaanse woordkuns in gemeenskapsverband. Sy het voorheen al verskeie boeke gepubliseer, waaronder kinderboeke en ’n geestelike roman,
maar dis haar gewilde geestelike boek getiteld Gesinstyd met God wat tans opslae maak.

(Fotograaf: Liezl Slater)

Gesinstyd met God is ’n praktiese gids met wenke, voorstelle, aktiwiteite en oordenkings wat gesinne toerus om God saam te dien en te verheerlik. Behalwe 13 teoretiese,
Skifgefundeerde hoofstukke is daar ook 52 weeklikse oordenkings wat Bybelse
karaktertrekke voorhou. Gesinne kan ook 52 aktiwiteitsbladsye invul om hulle geloofsreis oor ’n jaar te boekstaaf. Die boek is ook geskik vir gebruik by gesins- of huweliksberading waar
ouerskap bespreek word en vir kerke se huisgelooftyd-aktiwiteite en kleingroepies.

Watter prettige, moderne maniere is daar om gesinstyd met God opwindend te maak, om
lofsang en aanbidding ’n fees te maak en om saam uit te reik na ander op maniere wat
lekker én lewensveranderend is? Gelowige kenners en gesinne wat gereeld saam boekevat,
deel wenke en raad. Kindersielkundige Dr. Ronél van der Watt het hoofstuk 8 getiteld
“Geloofstyd met kinders” geskryf wat op geloofsvorming fokus. Dr. Gerdi van den Berg, ’n
kognitiewe gedragsterapeut en berader, en Jacolene du Plooy, ’n spelterapeut, deel hulle
ervaringe en maak praktiese voorstelle. Die skrywer Carina Stander vertel hoe haar gesin
God in die natuur opsoek, en Corlien Combrink, ’n tuisskoolma en onderwyser, deel haar
gesin se ervaring. Daar is ook ’n enkelpa en ’n oudskoolhoof wat wenke deel.

Volgens Viljoen is daar soveel gebroke gesinne in die land. “Baie ouerhuise het in
oorlogsones ontaard, en kinders is oorlogsprisoniers met stukkende harte. Gesinstyd met God herinner ons dat daar vir ons redding, heling en herstel in God is. Ek bid dat Gesinstyd met God gesinne inspireer om God binne gesinsverband te dien, want daar rus seën en guns op dié wat Hom dien.”

Skaf gerus dié Kersfees hierdie kosbare boek aan vir gesinne. Gesinstyd met God is by
boekwinkels beskikbaar maar kan ook hier bestel word.

“Van die eerste oordenking af was ek en my gesin geboei deur die maklike en praktiese manier waarop die boodskap oorgedra is. Dit was werklik pret om saans, as almal klaar is met die dag se dinge, almal stil te raak en saam te kyk na die volgende oordenking. Die opwindende aktiwiteite, wenke en praktiese voorstelle is perfek vir gesinne wat sáám nader aan Hom wil kom.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel