Die Blou Bulle-maatskappy sal die vleuel, Sbu Nkosi (26) die nodige spasie gun sodat sy geestesgesondheid kan verbeter.
Nkosi is Maandag by sy pa se huis in Emalahleni (Witbank) in Mpumalanga gevind met behulp van die Blou Bulle se veiligheidsmaatskappy, SSG, nadat hy op 14 November vermis geraak het.
Hy is op 17 November deur die maatskappy as vermis aangemeld nadat hulle nie daarin kon slaag om hom in die hande te kry nie.
Die uitvoerende hoof van die Blou Bulle, Edgar Rathbone, sê mense is geneig om te vergeet dat rugbyspelers ook net mense is, wat ook deur dieselfde uitdagings gaan as alle ander mense.
Volgens Rathbone het dit baie moed van Nkosi geneem om te erken dat dit nie goed gaan met hom nie.
“Nkosi se verdwyning en stryd met sy geestesgesondheid behoort te dien as ‘n les vir alle mense, en spesifiek mans, om eerlik te wees en te erken as daar fout is.”
Hy sê die Blou Bulle sal nou daarop fokus om meer aandag te gee aan rugbyspelers se geestesgesondheid. “Sportsterre is nie masjiene nie, maar mense.”
Rathbone wou nie uitbrei oor Nkosi se toekoms by die span nie, en sê hulle sal nou eers fokus op sy geestesgesondheid en om hom weer op die been te kry.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



