Video van voertuig: Hulp benodig vir Randfontein-boervrou, vier keer geskiet met seun (12) by haar in voertuig

Deel hierdie storie / Share this story

Irish Hattingh van Krugersdorp se Wildtuin-veilingskrale is geïdentifiseer as die vrou van Randfontein wat Saterdag 3 Desember om ongeveer 17:00 op die kruising van Tarlton en Ventersdorppad in Elandsvlei in koeëlreën deur haar voertuig se deur geskiet is.

Haar seun (12) wat langs haar gesit het, het wonderbaarlik aan ‘n koeël ontsnap.

Willem Petzer sê Hattingh was op pad van die veilingskrale na hul kleinhoewe in Randfontein-Wes toe daar op hulle losgebrand is. ‘n Ongelooflike 21 skote met ‘n outomatiese geweer het deur die bakwerk van die voertuig gedring.

Sy is vier keer getref, in beide haar bene – in die bobeen, onderbene en knie.

Die egpaar het as gevolg van verliese wat gelei was gedurende die Covid-inperkings hul mediese fonds gekanselleer.

Sy is tans in Randfontein-hospitaal en moet operasies ondergaan.

Indien enige persoon wil bydra tot haar mediese onkostes kan hulle dit doen by die volgende rekening wat spesiaal vir die spesifieke doel geskep is:

Vorsters Incorporated

FNB Tjek: 62218116508

Takkode: 250655

Verwysing: Petzer

FiND iT het vroeër vandag berig dat sers. Carmen Hendricks, polisiewoordvoerder vir Randfontein, gesê het die polisie het inligting ontvang van ‘n gewapende roof en poging tot moord.

Na bewering het die vrou van ‘n veiling gekom en toe sy met haar motor op die kruising was, is daar op haar geskiet. Haar voertuig het tot stilstand gekom en vermeende verdagtes het haar genader. Die vermeende verdagtes het haar handsak en skootrekenaar gevat en gevlug.

Die vrou het beserings opgedoen en is na ‘n hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.