Sakevrou wat tender moes indien, se liggaam gekry

Deel hierdie storie / Share this story

Die liggaam van die 41-jarige sakevrou van Welkom wat sedert 25 November vermis was, is in die Sandrivier naby Allemanskraal by Winburg, gekry, het polisiewoordvoerder, kapt. Stephen Thakeng, bevestig.

Matshediso Julia Nkhatho is as vermis aangemeld nadat sy vroeër saam met ‘n onbekende man in haar grys Volkswagen Polo na Kimberley gereis het om tenderdokumente te gaan inhandig. Die man sou haar met die dokumente gehelp het.

‘n Hengelaar het op 26 November die liggaam van ‘n vrou in die Sandrivier opgemerk en die polisie in kennis gestel. Polisieduikers het ‘n vrou se liggaam uit die rivier gehaal. Haar hande was vasgebind.

Na aanleiding van die mediaberigte oor haar verdwyning, is die liggaam uitgeken as dié van die vermiste Nkhatho. Haar motor is ook intussen in die Welkomse sakegebied opgespoor.

Die moorddossier word nou ondersoek deur speur-sers. Andrew Lechesa van die polisie se eenheid vir ernstige en geweldsmisdade in Welkom. Mense wat inligting het wat die polisie kan help in hul ondersoek word gevra om 082 493 1204 te skakel.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel