KYK: Polisielid vermoedelik deur bendelid doodgeskiet

Deel hierdie storie / Share this story

Konst. Ashwin Pedro (26) is Donderdagmiddag oorlede nadat hy na bewering deur ‘n bendelid doodgeskiet is.

WAARSKUWING: Die video is nie vir sensitiewe kykers.

Pedro is van die eenheid vir sigbare polisiëring in Grassy Park, Kaapstad. Hy is omstreeks 17:15 in Parkwood vermoedelik deur ‘n lid van die Six Bob-bende, doodgeskiet.

Kol. André Traut, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring ‘n 42-jarige man is in hegtenis geneem.

“Die doeltreffende en vinnige ontplooiing van hulpbronne om die verdagte wat ‘n Grassy Park-konstabel koelbloedig doodgeskiet het op te spoor, het lede van die Anti-Bende-eenheid na Ravensmead gelei waar ‘n 42-jarige man by sy skuilplek gearresteer is.”

Die 9 mm-pistool wat hy tydens die onderonsie met die SAPD-lede gesteel het, is in sy besit gevind en op beslag gelê.

Die omstandighede rondom die voorval word nog deur die Valke-ondersoekers ondersoek terwyl die verdagte se hofverskyning vir Maandag in Wynberg geskeduleer word.

*Video is deur AfriNUUS voorsien.