Die Skotse rugbyheld Doddie Weir (52) het Saterdagaand sy stryd teen motorneuronsiekte verloor.
Weir is in 2016 met dié siekte gediagnoseer, dieselfde siekte wat een van Suid-Afrika se rugbyspelers, Joost van der Westhuizen, geëis het.
“Dit is met groot hartseer dat ons die dood van ons geliefde man en pa, Doddie, aankondig,” lui ’n verklaring van die familie op die Skotse Rugbyunie se webblad.
“Doddie was ‘n inspirerende natuurkrag. Sy oneindige energie en dryfkrag, en sy karakterkrag het hom deur sy rugby- en sakeloopbane aangedryf en, glo ons, hom in staat gestel om die gevolge van MNS vir soveel jare te beveg.
“Doddie het dieselfde energie en selfs meer liefde en pret in ons lewens gesit: hy was ‘n ware gesinsman. Dit is moeilik om in woorde te beskryf hoeveel ons hom gaan mis.
“MNS het soveel van Doddie geneem, maar nooit sy gees en vasberadenheid nie. Hy het MNS so dapper beveg, en terwyl sy eie stryd dalk verby is, gaan sy stryd voort deur sy stigting, totdat ‘n geneesmiddel gevind word vir almal met hierdie verwoestende siekte.”
Die Skotse-slot het 62 wedstryde vir sy land gewen.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



