Die liggaam van ‘n jong kind is Maandagoggend omstreeks 08:00 in die veld naby Alheit, Kakamas gevind.
Kakamas-polisiewoordvoerder, kapt. Nelis Prins, het gesê die polisie het die liggaam in ‘n gevorderde toestand van ontbinding gevind.
“Die identiteit kan nie in hierdie stadium vasgestel word nie. DNS-toetse sal egter die identiteit bepaal en ’n nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van dood te bepaal.”
Daar kon nie bevestig word of dit moontlik die liggaam is van Sharne Basson (5) wat op 4 November vermis geraak het nie.
Basson het die dag saam met twee maatjies na ‘n winkel 200 m van haar huis gestap. Volgens haar maatjies het ‘n man vir haar ‘n lekker aangebied en haar glo in ‘n motor gedruk en weggery.
Prins het bygevoeg dat ‘n ondersoek na die kind se dood geopen is.
“Enige inligting wat met die ondersoek kan help, kan aan die ondersoekbeampte, AO Esterhuyse by 082 495 4880 of SAPD Kakamas by 054 431 6800 gekommunikeer word.”



