KYK: kêrel vra die ja-woord voor 9 000 mense

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Man van Mpumalanga het sy meisie by een van die grootste konserte in Suid-Afrika, Afrikaans is Groot, gevra om te trou.

‘n Skare van 9 000 mense het aanskou hoe Nathan Frankenfeld (32) op sy knieë gaan en vir Michelle Louw (30) met die groot vraag verras.

Hamilton Wessels, seremoniemeester vir Virseker, hoofborg van AIG, het Louw en Frankenfeld se sitpleknommers uitgeroep as wenners van ‘n gelukkige trekking.

Louw het gedink hulle het iets gewen, maar Frankenfeld en sy skoonma, Suzette Louw, het vooraf Virseker gevra om hom met die spesiale oomblik te help.

Toe Wessels, wat ook deel van die plan was, vir Frankenfeld vra of hy iets wil sê, het hy gese: “Al wat ek vir Michelle wil sê: ‘Ek is vir seker jammer dit het so lank gevat.”

Louw, wat op daai oomblik besef het wat aan die gang is, het begin lag en haar hande uit verbasing voor haar mond gehou. Frankenfeld het op sy knieë gegaan en die boksie met die ring uitgehaal.

Die paartjie beplan om volgende jaar November te trou.

“Die liefde was #Virseker GROOT by Afrikaans is Groot! 💕En dit was musiek in ons ore toe Nathan vir Michelle tydens Saterdag 12 November se konsert die “ja-woord” voor die hele gehoor wou vra! ’n Boer maak ’n plan, en ons het dadelik ja gesê om hom hiermee te help, sodat Michelle kan ja sê! 🥰 Hoe spesiaal en onvergeetlik is dit nie? 😍 Baie geluk, Nathan en Michelle!,” het Virseker op hul Facebook-blad geskryf.

Kyk die video hier.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel