Vier vermeende motordiewe is gisteroggend om ongeveer 04:00 in die hoofstraat van Vredefort dood nadat die voertuig wat hulle glo gesteel het teen ‘n vragmotor se sleepwa gebots het.
Die voertuig wat by ‘n woning in Kroonstad gesteel is se eienaar het tydens die diefstal van die motorvoertuig wakker geword en op CCTV-kamera gesien hoe die misdaad plaasvind. Sy het dadelik die opsporingsmaatskappy waarvan sy gebruik maak, gebel, wat op hulle beurt die polisie gekontak het.
Die gesteelde voertuig met sy insittendes is deur polisie buite Vredefort opgemerk, wat hulle agterna gesit het. Toe die verdagtes in die gesteelde voertuig die dorp binnery, het die verdagte wat bestuur het klaarblyklik beheer oor die voertuig verloor en in die agterkant van ‘n geparkeerde vragmotor se sleepwa vasgejaag.
Die bestuurder van die vragmotor was in die vragmotor, maar het geen beserings opgedoen nie. Al vier insittendes van die voertuig is op die toneel dood verklaar.
Bron: Parys Gazette
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



