‘n Pa (35) van Tembisa-Suid aan die Oos-Rand is gister in hegtenis geneem en onder polisiebewaking na ‘n hospitaal geneem nadat hy deur lede van die gemeenskap bygekom is omdat hy glo sy kind (7) stukkend geslaan het.
Lt.kol. Marvela Masondo, polisiewoordvoerder, sê lede in Tembisa-Suid het gister ‘n klagte ontvang van gemeenskapslede wat ‘n man aanrand. Met die lede se aankoms op die toneel het hulle ‘n beseerde man op die grond aangetref.
Omstanders het die lede ingelig dat hy glo sy kind aangerand het. Die lede het die kneusplekke en beserings aan die minderjarige kind se liggaam waargeneem. Beide die pa en kind is vir mediese behandeling geneem.
Die pa is aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die saak is geëskaleer om deur die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ondersoek te word.
“Die Gautengse polisie gaan voort om sake waarby kinders en vroue betrokke is, te prioritiseer,” sê kol. Masondo.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



