Kyk hier na die video’s en lees die volledige huldeblyk in die berig:
Theuns Jordaan, ontslape sanger van Afrikaanse musiek wat geen bekendstelling nodig het nie, is gister deur Johnny Burger, die hoof- uitvoerende beampte van “The SA Hall of Fame”, by die SA-heldesaal ingehuldig.
Dit het op die AIG 2022-verhoog gebeur waar die toekenning aan Theuns se pa, Willie Jordaan, oorhandig is.
Sangers van AIG het hulde gebring aan hul ontslape vriend – die groot stem van Afrikaans, terwyl hulle die teenwoordigheid van sy pa, oom Willie Jordaan, as ‘n voorreg bestempel het.
Theuns Jordaan is op 17 November 2021 aan bloedkanker oorlede en op 26 November begrawe.

Barry Pretorius, AIG en Die Kontrak se uitvoerende vervaardiger, kreatiewe direkteur en beoordelaar, het die volgende omtrent die inhuldiging op sy Facebook-blad geplaas:
“Ek wou Theuns se huldeblyk by die konsert ten volle rig aan Theuns uiteraard, maar ook baie graag aan sy ondersteuners, want ons as kollegas en vrinne kon sy begrafnis bywoon en hom groet, maar sy aanhangers en volgelinge het weens die pandemie nooit daai voorreg gehad nie.”
Daarom het ek gevoel dis belangrik dat Theuns sy mense groet, en dat sy mense dan ook vir hom goodbye kan sê, al is dit in gees. Hy is sonder twyfel in gees teenwoordig by elke konsert.”
“Bobby begin die segment en hier is die woorde soos Bobster die huldeblyk begin:”
“Vir elke saak, is daar ‘n bepaalde uur en vir alles onder die hemel, is daar ‘n bepaalde tyd.
Daar is mooi tye in ons ganse bestaan;
‘n tyd om te kom, ‘n tyd om te deel en ‘n tyd om jou Godgegewe talente om te skakel in die roeping wat Hy vir jou koester.
Maar dan is daar die hartseer tye in ons ganse bestaan.
‘n Tyd om te gaan, ‘n tyd om te groet, ‘n tyd om vir eers goodbye te sê, en ‘n tyd waar almal agterbly en ewig God sal koester omdat Hy ons geroep het met sekere Godgegewe talente om ‘n verskil in hierdie wêreld te maak.
Toe Theuns sy ewige rus aan die voete van ons Vader gaan vind het, sou die wêreld dink dat ‘n onmeetbare verlies ons nagelaat word omdat ons almal, weens ‘n pandemie, nie ‘n drukkie of ‘n wangsoen kon gee nie, of sommer net aan sy hand gaan vat en sê: “Vaar jou wel, my liewe vriend Ek gaan jou mis” nie.
Nee, ‘n onmeetbare verlies sou wees as Theuns se stem en roeping deur God se guns vir ewig stil sou raak. Maar dit het nie, en dit sal nooit nie.
Sy stem sal eggo deur die ganse realm van die Heer se genade, ‘n realm sonder grense. Theuns se roeping sal bruis deur die are van almal wat kan hoor, kan begryp en kan ervaar.
Die gevoel van die onmeetbare verlies is opgesluit daarin dat ons nooit werklik kon afskeid neem of Theuns selfs groet nie,
…maar wat werklik onmeetbaar is en ewig onmeetbaar sal bly, is dat Theuns die hoogste doel in sy Goddelike roeping gevind het, hy nou woon in die huis van die Here, maar altyd in gees by ons sal wees.
Aan God al die eer.”
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



