‘n Polisieman is Sondagoggend vroeg voor sy gesin doodgeskiet. Sers. Tumelo Losaba en ‘n mede-lid is vroegoggend deur drie mans in hul huis aangeval en beroof.
Volgens kol. Athlenda Mathe is daar besittings uit die huis van die beampte van Mabopane in Pretoria gesteel. Een van die verdagtes is tydens die inbraak gewond, waarna sers. Losaba doodgeskiet is.
Mathe sê die een verdagte het in ‘n grys Audi A3 gevlug en die ander een is te voet weg, maar is deur die gemeenskap agternagesit en in hegtenis geneem.
“Die verdagtes sal teregstaan op aanklag van moord en huisroof.”
“Die waarnemende nasionale kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) lt.genl. Tebello Mosikili, het die gemeenskap van Mabopane geloof vir die inneem van ‘n verenigde standpunt teen misdaad, geweld en verontagsaming van die wet. Lede van die publiek word weereens herinner aan hul deurslaggewende rol om die polisie by te staan om misdaad hok te slaan,” sê die polisie in ‘n verklaring.
Die SAPD moedig gemeenskappe voorts aan om ‘n aktiewe rol te speel in die Gemeenskapspolisieforum (GPF) strukture in hul onderskeie gemeenskappe.
“Die sentimente wat deur die waarnemende polisiekommissaris gedeel word, kom ná ‘n aanval op twee polisiebeamptes wat nie aan diens was nie by hul blyplek in Mabopane in die vroeë oggendure Sondag. Een verdagte en sers. Tumelo Losaba is noodlottig gewond.
’n Soektog is intussen van stapel gestuur na die tweede verdagte wat in ’n grys Audi A3 gevlug het. Die derde verdagte het te voet weggehardloop, maar die dapper gemeenskap van Mabopane het die 32-jarige verdagte aangekeer,” lui die polisieverklaring.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



