’n Driejarige seuntjie is die enigste oorlewende van ’n moordtog wat ses mense, insluitend sy ma, by ’n huis in New Brighton, Oos-Kaap, se lewens gekos het.
Sommige slagoffers is geskiet, terwyl ander met ’n mes gesteek is.
Die ongedeerde kind is na bewering langs die liggaam van sy ma, wat twee keer in die kop geskiet is, gevind. Die moorde het Saterdag in die vroeë oggendure by ‘n huis in Rambastraat plaasgevind.
Kol. Priscilla Naidu, Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, sê bure het tussen 01:00 en 02:00 geweerskote gehoor. Net voor 07:00 het bure by die nabygeleë huise gaan kyk, en die liggame van ses mense by een van dié huise gekry. Naidu het gesê hulle het die deur oop gevind. By verdere ondersoek is die liggame van vier mense, een vrou en drie mans, in die sitkamer gekry.
“Nog ‘n vroulike liggaam was in die kombuis en nog een in die slaapkamer. ‘n Driejarige seuntjie is ongedeerd in die slaapkamer by die vrou gevind. Al die oorledenes was tussen 25 en 35 jaar oud.
“Sommige van die slagoffers is geskiet en gesteek terwyl ander net geskiet is,” het Naidu gesê.
Volgens Naidu is bewerings dat die oorlede eienaar van die huis ‘n werktuigkundige was wat aan motors op die eiendom gewerk het. Sy het gesê nog ‘n bewering was dat die huis ‘n dwelmhuis was. Dele van die huis is glo geplunder. Dit is nie bekend of iets gevat is nie.
“Die identiteit van die verdagtes en motief vir die skietvoorvalle is in dié stadium onbekend.
Kol. Naidu het verder gesê vier van die ses oorledenes is Saterdag deur familie uitgeken. “Hulle is Phindile Matrose (manlik/eienaar van die huis), sy suster Cikizwa Matrose, Noxolo Tom (vroulik, 31) en Lungisi Kitsane (manlik). Nog ‘n man en ‘n vrou se identiteit is steeds nie bekend nie.
Die oorlewende kind is deur familielede gevat. Die kind se ma en haar man het by haar broer gewoon. Die man was nie tydens die moorde daar nie, aangesien hy siek is, het kol. Naidu gesê.
Die provinsiale ondersoekeenheid vir georganiseerde misdaad in Gqeberha ondersoek ses aanklagte van moord.
Waarnemende provinsiale kommissaris, genl.maj. Thandiswa Kupiso, het onmiddellik ‘n 72-uur-aktiveringsplan geïmplementeer om die moordenaars op te spoor. Sy het ook ‘n beroep op die gemeenskap van New Brighton gedoen om nou saam met die polisie te werk om diegene wat verantwoordelik is vir die “grusame moorde” te identifiseer en vinnig in hegtenis te neem.
“Ons doen ‘n beroep op almal op alle vlakke van die samelewing om saam met die polisie te staan om hierdie genadelose misdadigers te keer wat die stabiliteit en vrede binne ons gemeenskappe bedreig.
“Die 72-uur-aktiveringspan sal die hele dag werk om inligting en bewyse in te samel om diegene te identifiseer wat verantwoordelik is vir die pleeg van sulke gruwelike moorde,” het genl.maj. Kupiso gesê.
Die polisie doen ‘n beroep op enigiemand wat met die ondersoek kan help om kol. Willie Mayi by 082 697 5914 of Crime Stop by 08600 10111 of hul naaste polisiestasie te kontak.
Alle inligting is vertroulik en bellers kan anoniem bly, het die polisie gesê.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



